Die Prys van My Migrasie

Ek het onlangs ‘n boek oor migrasie klaar geskryf. En die heeltyd terwyl ek dit skryf voel ek die verlies aan woorde. Die absolute onvermoë om myself werklik te kan uitdruk. Daar is 22 stories in die boek en agter elkeen lees ek die onbewoorde woorde. Ek lees tussen hulle lyne. Tot vanoggend… toe die stilte tussen die paragrawe my op die krop van my maag kom slaan.
Die groep ou mense, bejaardes, silwergryses, oues van dae, het skuifel-skuifel tot by die naaste koffie winkel gestap. Die asem en die bene, en ek dink die verstand sou ontbreek, om hul weg te vind na die ander koffieholtetjies wat in die gange van die winkelkompleks weggesteek is. Die twee verpleegsters en een sekuriteitswag (waarom sou hy nodig wees?) het sorgsaam en stadig saam hul gestap. Die een verpleegster het seker gemaak die haan onder die henne se broekrek skaaf nie te veel, en hul het hul sit gekry om die tafel. Die tannies se kapsels duifsag grys keurig bewerk om die wit kopvel so goed as moontlik weg te steek. Die bestelling is geplaas en die kleingeld noukeurig deur die sekuriteits wag getel en vir elkeen teruggegee. Die ou oom het moeisaam sy sak gekry om die een of twee silwerstukke daar in te druk. Alles in stilte. Die groepie sit meestal oopmond na hul omgewing en mekaar en kyk. Asof hul na ‘n leeftyd weer in die buitewêreld kom en alles opnuut moet inneem en verwerk.
Skielik oorweldig die emosie my, sommer so in die openbaar. Ek sit skaamteloos en huil terwyl my kinders “decadent hot chocolate” drink en “reindeer” gemmerkoekies eet. Ek kyk die ou mense en ek verlang my stukkend na my ma. En ek voel skuldig oor ek hier is en hulle daar is en ek hul oud word mis. Telefoon gesprekke word blindelings gevoer, sonder ‘n werklike kennis van wat aangaan. Skype se beeld kan nie die werklike verlange na aanraking stil nie en ons praat om mekaar. Praat sonder om werklik te sê wat ons dink en wat ons voel.
Ek vertel haar nie hoe ek wens dat ek eendag die telefoon kan optel en hoor hoe sy sê dat ek die ketel moet aansit sy is nou-nou hier nie. Die stilte kan haar nie vertel hoe graag ek haar hand wil vashou as ons oor die pad stap, of hoe ek saam haar wil gaan klere aanpas nie.
Ek vertel haar nie hoe jammer ek is dat my kinders haar nie ken en ervaar soos haar suster en broer se kleinkinders nie. Ek probeer opmaak met whatsup foto’s en videos. Maar dit maak nie op nie. Dit maak die verlange net meer, doen dit nie? Die verlies aan die lyfies wat sy nie sien groter word nie. Net die skok dat die baba van drie jaar terug een van die dae vier jaar oud word. En aanvanklik sku in haar teenwoordigheid sal wees.
Vandag… vandag is die prys van my migrasie bitter duur. Vandag bereken ek die prys van my verlange in trane en verlies. Die verlies om te weet dat ek nie daar is vir my ma. Nie daar is wanneer sy oud word nie.
Ons bereken nie die prys van migrasie wanneer ons besig is met die proses nie. (Ons dink ons doen, maar ons doen nie werklik nie.) Ons sus ons gewete en sê dat ons mos sal kom kuier op ‘n tweejaarlikse basis en die ander jaar sal hulle kom kuier. Ons vertel mekaar daar is mos Skype en Whatsup. En ons maak beloftes wat ons nie kan hou want ons weet nie wat die dag van more gaan bring nie.
Die onbewoorde woorde van die boek, tussen die die lyne van die vraag of ons die stap van migrasie weer sou neem, is verlange. Ja, ons sal weer die stap neem. Ons het so baie van ons self hier kom leer. Soveel gegroei as mense. En die verlange het ons kom leer dat familie se saamwees so belangrik is.
Maar, vir vandag is die prys vir my hoog, want vandag verlang ek my stukkend na my ma.

One thought on “Die Prys van My Migrasie

  1. Pingback: Life Happen in Australia as well | Marlize Venter

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s