Die Maat van jou Oordeel

Op die een en twintigste Desember 2001 het ‘n vrou in ‘n geel volla my pa doodgery op die Alma kragstasie pad in Welkom. My ma en twee ander fietsryers was by hom. Die ambulans was vinnig op die toneel, te danke daaraan dat een van die ryers by ‘n dokter gewerk het en hul haar dadelik kon bel. Maar die skade was te groot, hy ‘n is uur later in die Oppemheimer hospitaal dood, met een van my skoolmaats wat dokter geword het, op sy borskas om hom te probeer hou in die lewe en my ma wat histeries smeek dat hy tog net moet bly.
Toe ek later die polisie kantoor skakel om die ongeluk te verander na een van strafbare manslag het hul nie eens geweet waarvan ek praat nie.
Strafbare manslag. Dieselfde klag as waaraan Oscar skuldig bevind is.
Later is die vrou skuldig bevind en ‘n opgeskorte vonnis gegee. Nie tronksstraf nie, net ‘n opgeskorte lisensie en ‘n opgeskorte vonnis. En ons is gevonnis tot ‘n lewe sonder my pa met herinneringe van ‘n groot sterk man wat stukkend langs die pad gelê het en die heeltyd sy liefde aan my ma verklaar het. Die heeltyd vir haar wou laat hoor: “Pop, ek is lief vir jou.”
Ek vertel nie vir julle hierdie storie vir jammer kry of sensasie nie. Ek vertel dit sodat julle kan verstaan waarom ek hier gaan skryf wat ek hier gaan skryf.
Hierdie hele Oscar sage maak my hart bitter seer. Nie as gevolg van die feit dat hy skuldig bevind is aan strafbare manslag in plaas van moord nie. Nie as gevolg van die vyf jaar vonnis wat hom opgelê is nie. Ook nie omdat die vrou wat my pa dood gery het ‘n blote “slap on the wrist” gekry het nie. Nog minder omdat die vraag dalk kan opkom oor waarom die dood van ‘n pragtige model deur ‘n jongman op die kruin van sy lewe soveel meer gewig dra as die dood van ‘n 53 jarige man wat die rots van sy twee dogters en die vrou van sy jeug se lewens was. Dit maak my hartseer omdat dit die lelik in so baie mense uitbring.
Want sien, die Oscar saak en die feit of dit beplan was of nie en of hy vyf jaar sit of tien maande, het in werklikheid niks met iemand anders uit te waai as met die betrokke partye self nie. Dit is nie jy wat sonder jou dogter moet gaan slaap nie. Jy kan jou dalk probeer indink, maar as jy nog nie self daar was nie, dan wil ek vir jou sê, wees die Here, of wie jy ookal aanbid, dankbaar dat dit nie jy is nie. En vra in nederigheid dan dieselfde God/god dat die beker eerder verby jou gestuur moet word, want dit is hel om langs die lyk van ‘n geliefde te moet staan wie net gister nog met jou oor die foon gepraat het, en te weet, hierdie is so, so onnodig.
Dit maak my siek op my maag wanneer ek die lekkerkry en selfopgelegde regterskap sien waarmee mense hulle opinies lug. “Net 5 jaar? Werklik?” Daar word van die skuldige gepraat asof sy mensskap skielik weg is. Asof die misdaad hom verdierlik het. Maar ek onthou die dag toe ek met die baie bang vrou gepraat het, omtrent vier weke na my pa se dood. Sy was so jammer en ek was so stukkend. En ons was mens, ons het mens gebly. Een mens met baie seer en een mens met baie skuld. En my laaste woorde aan haar was, “Ek vergewe jou.”
Verstaan julle nie die vryheid in vergifnis nie? Waarom is julle so “hellbent” om iemand te verdoem tot die galg? Waarom die satisfaksie dat ‘n hoë boom geval het? Is dit omdat jy jouself op die skouer kan klop en sê “Goddank, ek is tog nie so nie? Hy het gedink hy is iemand en nou is hy eintlik niks. Uiteindelik is die tall poppy cut down to size?”
Ja, hierdie ding is vir my persoonlik, omdat ek die slagffer is van ‘n strafbare manslag saak. Maar dit is persoonlik omdat ek maar al te goed besef dat die maat waarmee jy oordeel, jy geoordeel sal word.

One thought on “Die Maat van jou Oordeel

  1. Ek is jammer om te hoor van jou pa. Dit moes ontsettend moeilik gewees het.
    Ek dink die samelewing se obsessie met Oscar Pistorius het deels te make met die onregverdigheid van dit wat om ons aangaan. Ons is geneig om vanuit ’n morele oogpunt te wil straf uitdeel en nie vanuit die pilare van die wet nie. Ek dink dis ’n geval van “hoeveel is ’n lewe werd”, ongeag of jy persoonlik daarby betrokke is/was.
    Sterkte vir jou!

    Like

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s