Dankie Kim Kardashian

Ek is Kim Kardashian baie dank verskuldig. Ons het nie veel in gemeen nie behalwe een ding, of is dit nou twee? Ons beide het groot uhmmm…. Boude. Agterstewes. Derrieres. En die boude en die heupe hy gaan saam.
Ek hou die vrou nou al ‘n ruk lank dop en ek verwonder my aan haar self vertroue. En ek wens dat ek so kan voel oor my liggaam.

Ek beloer myself in die aantrek hokkies van Target en KMart en draai dan met ‘n gesmarte sug om en gaan hang die tent weer terug op sy plek. Ek weier, ek sê jou, ek weier, om ‘n ding te koop wanneer ek nie regtig daarvan hou nie. En nog minder koop ek ‘n stuk lap met die belofte dat ek gewig gaan verloor. Ek weet mos nou al dat dit baie stadig gebeur, en ek kan nie ‘n ewigheid wag nie.

So pas ek nou die dag ‘n paar skoene aan. Sulke stelte wat die boude bietjie meer lig, die rug bietjie reguiter trek en maak dat ek my tieties bietjie meer moet uitstoot om die balans te hou. Jinne, en daar verander die lelike bene in gatskop bene, en ek kan nie ophou kyk nie. Vol moed stap ek by ‘n rok winkel in. Nogal, Spoil Yourself, en die verkoopsdame spoil dit amper toe sy vir my ‘n nommer 14 rokkie aangee. Ek is baie dinge, maar ek is nie blind nie. Nommer 14 is vir my ’n huisnommer. Baie lank gelede was dit ‘n rok nommer. Maar sy dring aan en ek is ordentlik en neem die stukkie lap. En wraggies! Dit pas! En ek lyk goed. Baie goed. Ek doen dadelik die selfie ding wat ek sien die jonger klomp op Facebook doen. En vir die eerste keer in jare sien ek op die foto wat ek in my kop sien. ‘n Lank en slanke vrou.
Ek loop op wolke uit by die winkel. Nie armer nie, want die immer realis het besef dat die rokkie nie aangetrek gaan word nie, want ek het nêrens om heen te dress nie.

Tot die tyding van ‘n High Tea wat hier in Perth gehou gaan word. Ek sien beelde van rokkies en hakke en hoedens.
“Kom ons gaan,” nooi my vriendin.
“Goed,” seg ek.
Ek gaan die Donderdag voor die Saterdag na Spoil Yourself toe. Ek gaan pas rokke aan, sonder die hulp van die verkoopsdame. Ek dink aan Kim Kardashian en ek dink aan haar boude en hoe sy dit giet in lappe en ek dink, ‘Kimmie, my girl, myne is groter as joune en as bigger better is, dan moet ek hierdie ding kan doen.”

Die rokkies is mooi, hulle is gerouche hier in die middel saam en die heupe en die magie verdwyn onder die plooie van die materiaal. Maar steeds loop ek leë hande daar uit. Die geld is baie en die selfvertroue min. Miskien wanneer die man van my jeug ook gaan kyk. (Groot risiko! Alhoewel hy takt het lees ek sy stilte soos ‘n boek, en selfs wanneer hy dan ‘n goedbewoorde mening lug lees ek tussen die lyne.)
Saterdag, die High Tea dag breek aan. Ons gaan shop, vetel ons die seuns. Ek het klaar die step-in aan, die gesiggie is geverf, die hare is gedoen. Elke bietjie help. Ek soek eers skoene. Skoene wat die boude lig en die tieties uitstoot. Ek kry nie. Nie net het ek groot heupe en boude nie, ek het ook groot voete. Ek kry eindelik, en ons stap Spoil Yourself toe.

“Net twee rokkies aanpas,” word 8 rokkies aanpas en toe sy mening gevra word deur die verkoopsdame is sy antwoord, “Already two ticks.” En ek kan die goedkeuring in sy woorde en ook sy oë lees.

Die rokkies vou om my kurwes, hulle stop onder my knieë en ek voel soos ‘n film godin van Marilyn Monroe se era. Ek voel mooi, en ek voel wulps, en ek voel sexy.

“Vat vir jou almal waarvan jy hou,” kom die woorde wat soveel meer sê as wat dit sê. Ek kies net twee, die blommetjie rok vir die High Tea en die swart rokkie, want die stripper hakke wag om gekoop te word en al dra ek die uitrusting net bed toe, dra gaan ek dit dra.

So gaan ek toe High Tea toe, ek was gespanx, my wenkbroue gewax en sommer my snor ook. Ek het skoene aangehad wat my boude gelig het en ja, my tieties gelig het. En ek het bloed rooi lippe gehad. Die Marlize op die foto het uiteindelik by Marlize in my kop gepas.

2 thoughts on “Dankie Kim Kardashian

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s