As ek maar het…

“Jirre, meneer, dis mos nie hoe dit hoort nie. Om jou kindgoed te moet begrawe nie. Ek het daar gesit en die heeltyd gekyk vir die kis, gewag dat hy die deksel moet oplig en sê, ‘One, two,three, blok myself.’ Maar hy het nie.

“Hoekom is ‘n doodskis so swaar? Ek meen nou, dit was nie eens ‘n fênsie kis nie, net een van daardie cardboard goete, en dit het my gevoel my knieë knak onder die gewig. Ek dink die Spirit is wat mens lig maak, maar die dood, die dood is soos ‘n klip.

“Dis mos nie reg nie. Hoe maak ek my kop dat hy verstaan? My môres is dood. En vandag, hel meneer, vandag is so lank. Hoekom maak die dood die tyd so lank? Ek meen nou maar, toe hy gelewe het was daar nooit tyd vir net stil sit nie. Maar nou, nou sit ek net. Ek hou die deur dop en wag dat hy daar deurloop. Ek wag dat hy kombuis toe kom vir ‘n drinkding. God, ek belowe, ek sal nooit weer kla oor hy so baie eet nie, as ek nog net een keer vir hom kan brood smeer.

“Ek het daar langs die geel kluite gesit en gewag dat hy moet begin roep van die binnekant af. Ek het gewag dat die Jirre moet antwoord en hom moet opwek. Ek sweer ek sou elke een van daardie klippe self met my kaal hande oopgraaf. Maar hy het nie… Die voëls hou nie van ‘n begrafplaas nie, het jy al gehoor? Hulle sing nie daar nie. Hulle sit net en kyk na die mal mens wat met ‘n hoop grond kom praat.

“Dink jy hy kry koud? Dis darem maar bitter koud in die nagte. Hoe dink jy, gaan die gevoelentheid met die asem saam uit?

“Nee, Jirre meneer, dis mos nie hoe dit hoort nie. Soek jy dalk bietjie tee? Hy het so van soet tee gehou. Vat jy suiker?

“Miskien as ek hom langer vasgehou het teen my, miskien as ek hom nog een keer baai gesoen het, miskien as ek die rafel van sy kraag afgehaal het… Maar ek het nie.”

4 thoughts on “As ek maar het…

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s