Die rekke in my kake

Dis nou al dae wat die spanning kom rekke span in my kake en my strot. Sulke vastrekrekke soos ek my verbeel die rekkies wat die drade in kinders se monde moet vashou moet voel. Ek is nie ’n gespanne mens nie, maar my lyf vertel my ek is. Probleem is ek weet nie wat pla nie, en as ek enigsins ’n spesmaas het, dan voel ek eintlik skaam om te vertel wat my stres, want daar is miljoene manne en vrouens en kinders wat nie kos het of ’n plek om te slaap of veilig is nie.

Want, wat het ’n wit vrou in ’n veilige land, in ’n 4×2 huis, met twee gesonde kinders, en ’n man wat vir haar sorg, met ’n hond wat by haar voete lê, nou eintlik om oor te kla en te bekommer?

Ek bekommer my oor my paspoort wat al verval het en wat ek gaan maak as ek vinnig op ’n vliegtuig moet klim oorlat ek moet Suid-Afrika toe vlieg sodat ek by my mense kan wees. Ek bekommer my wanneer my ma my vertel van die generator en die sekuriteitskameras en die elektriese heinings wat hulle installeer. Ek bekommer my wanneer my man werk toe gaan in die oggend dat hy in die middag by die huis gaan kom en sê hy het nie meer een nie. Ek bekommer my oor my kinders se opvoeding waarvoor ek en nie ’n skool sisteem verantwoordelik is. Ek bekommer my oor my aanhoudend veranderende lyf. Ek bekommer my oor my hormone wat in hul maai is. Ek bekommer my oor ek deesdae net nie lus het vir iets nie. Ek bekommer my oor my man wat in die nagte wakker word van hartkloppings. Ek bekommer my oor die testamente wat in die boks lê en nog nie geteken is nie. Ek bekommer my dat ek die guts het om myself as skrywer uit te gee en ek nie weet of ek enigsins die reg het om myself een te noem nie. Ek bekommer my oor die geld wat ek aan die druk van my boeke uitgee en ek weet nie of dit ooit gaan verkoop nie. Ek bekommer my oor die toespraak wat ek oor twee weke moet doen en ek nie weet hoe die vrouens dit gaan ervaar nie. Ek bekommer my oor ek nie pienk skoene vir die oggend kan kry nie, en ek wil pienk skoene of dan ten minste pers skoene kry, met helse hoë hakke. Ek bekommer my oor die feit dat ek drie ure op ’n dag verloor het wat ek met my man kon spandeer. Ek bekommer my oor die nimmereindigende gejaag na wind.

Ons betaal mediese fondse, versekering om die karre te dek, die huis inhoud te dek, die dop van ons belegging te dek. Maar ons bestaan net. Ons hou net aan loop in die winkelsentrums van die een donnerse koffie winkel na die ander, loop en koop met die oë en begeer die een byvoeging tot die dooie goed in ons huis tot die ander byvoeging van ’n dooie ding in ons huis weer die lus wakker maak.

Ons het vergeet hoe om te lewe!

En dit bekommer my.

Ek is bang dat ek op my sterfbed gaan lê en daar is niks, niks waarop ek saam my kinders kan terug kyk wat hulle gaan onthou en kan sê: “My ma het my dit geleer, of my ma het dit saam my gedoen, of my ma het my dit vertel.” Tans gaan hulle bloot kan vertel van hulle ma wat voor ’n godsverdomde tikbord sit en tokkel, tokkel, tokkel en kyk vir facebook. Hulle sal kan vertel van die youtube video’s wat hulle gekyk het.

O ja, en ek bekommer my oor my kinders se onfiksheid.

Soms wil ek soos Annlie Botes vir Andries sê, “Bartel, kom ons fokkof.” Kom ons fokkof net uit hierdie gejaag, werk toe en terug, werk toe en terug, werk toe en terug. Kom ons verkoop alles en ons fok net weg en gaan span ’n tent op die strand en muf daar tot ons nie meer kan nie.

Hoe begin mens oor? Hoe begin jy reg oor? Hoe begin jy sonder iets, sonder goed, met net die liefde, en ’n droom, en jou hond? Hoe doen jy dit? Hoe loop jy weg van jou verpligtinge en dit wat die samelewing van jou verwag? Hoe gaan jy lynreg in teen sogenaamde normaliteit?

Wat is normaal nou eintlik? WAT IS NORMAAL NOU EINTLIK?

Wat in ons huis het ons werklik nodig? Hoekom belaai ons, ons so swaar dat ons kakebene styftrek en ons strotte voel of iemand dit met ’n wurggreep vashou? Hoekom doen ons dit aan onsself?

Hoekom bekommer ek my oor goed wat ek nie kan beheer nie?

Ek gaan die paspoort storie uitsort, ek gaan my kinders laat hol tot hulle tonge op die grond sleep, ek gaan vir my ma-hulle bid, ek sal skoene gaan soek, en as ek dit nie kan kry nie, dan sal swart skoene met helse hakke moet doen, ek sal my kinders opvoed, want ek kan dit beter doen as ander wat hulle nie naastenby so lief het nie, ek sal aanhou skryf, of iemand nou my goed lees of nie, want ek kan nie asemhaal as ek nie kan skryf nie. Ek sal die testamente teken en laat attesteer, ek sal die toespraak gaan gee, want ek weet dat dit nodig is vir ’n tyd soos nou, ek sal aanhou dink aan myself as skrywer, wat ek is een, of die mense my boeke, wat nog geskryf moet word, gaan lees of nie.

Êrens gaan die ander dinge hulself uitsort. Êrens sal die Here die leisels oorvat uit my hande en die ding uitsorteer soos Hy nog altyd gemaak het, of ek nou geworry het of nie. Op die ou end, weet Hy beter, weet Hy wat ek nodig het, sal Hy voorsien. Hy plaas die begeertes, die hunkerings in die kamers van my hart en op ’n manier sal Hy dit met my uitstoei sodat ons kan kom waar Hy wil hê ons moet wees.

Hierdie is die jeremiades van ’n wit vrou, in ’n veilige land, met ’n 4×2 sonder heinings en diefwering. Dit is hoe dit klink wanneer iemand kla met die witbrood onder die arm. My probleme is anders as die manne en vroue en kinders wat nie kos het, of slaapplek het of nie veilig is. My probleme is maar pretty bleeksielig wanneer jy dit so wit op swart sien staan.

As die rekke net my kake en my strot wil los.

10 thoughts on “Die rekke in my kake

  1. Ek hoop nie jy gee om nie tjomma, maar ek’t hierdie post op “SA ladies in Perth” geshare. Ek voel met hierdie stuk staan jy in jou woord as “interpreter” – om dit te verwoord wat so baie ander voel.

    Like

  2. Pingback: Anything is Possible | Marlize Venter

  3. Marlize, Ek het altyd maar droeëbek in my eie verbittering gesit en dieselfde snert my laat opvreet. Ek voel verlos as iemand dieselfde voel, as iemand wat ook skryf dieselfde voel.
    Ek wil weghol, en ‘n ander lewe begin. Een vol glimlagte, nuwe gevoelens en mense, ‘n lewe waar geld gladnie saakmaak nie. Ek wil iets nuuts leer, ‘n taal of iets wat regtig nie saakmaak nie,
    Maar dis tog soos Jy sê, hoe de fok doen ‘n mens dit?

    Ek waardeer jou verlossing vanmôre, dit beteken vir my dié wêreld.
    Ek moedig jou aan om NOOIT op te hou skryf nie, jy het iets wat BAIE mense wil hê!

    Like

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s