So, hoe gaan dit met jou?

So kuier ’n liewe vriendin by my verlede week. Hulle bly op Christmas Island, tussen die hemel en die paradys, klink dit vir my. Snaaks hoe ons vriendskap ontwikkel het. Ek het hulle via Aussiekaners ontmoet toe hul nog in Suid-Afrika was, en het maar so oor die internetkabels met haar gesels en probeer raad gee. Toe hulle geland het, het ons van Kalgoorlie deurgery en ’n karstoeltjie vir die seuntjie gebring.

Alle geval, ons het daarna nog een keer saam gekoffie en toe vir jarre mekaar nie gesien nie. Tot ons Perth toe getrek het vroeg verlede jaar. Toe het ons een keer by ’n park ontmoet en mekaar nie weer gesien nie. Hulle het toe paradys toe getrek.

Sy het vier ure se tyd bygekry in die dag, en ek het drie ure verloor. Sy het ’n gesinslewe bygekry en ek suig aan die agterspene. Nee, ek is nie jaloers nie. Haar gade in die eg het daagliks vrek ver gery werk toe, nog voor ligdag en eers donker by die huis aangekom. As daar nou twee mense is wat verdien om meer tyd saam te hê is dit hierdie mense.

Alle geval, so kom kuier hulle vir ’n wyle in Perth en ek gaan haal haar om bietjie te kom kuier. En ons tel drade op waar daar nie eens werklik drade was nie, maar dit is asof ons werklik waar nog altyd maters was. Ek hou van sulke vriendskappe. Sulke aangaan waar ons laas klaargemaak het, al was dit jarre terug.

So vra sy my ’n vraag wat my uitboul. Sy vra, “En hoe gaan dit met jou?” Ek weet nie wat om te antwoord nie. Ek is so gewoond om te praat oor my man en my kinders en die hond dat ek so bietjie ontkant betrap is. Ek kan ook heel goed praat oor dit wat my besig hou. Maar, hoe gaan dit met jou – okey dokey, daardie vraag is bietjie moeilik om te beantwoord.

Wat antwoord jy nou eintlik? Dit gaan goed, dankie? Besig, dankie? Onder omstandighede goed, dankie? Geseënd, dankie?

Want, hoe praat jy nou eintlik oor jouself?

Ek weet nie meer nie. Dit gaan goed met my, dankie. Ek dink. Ek het hierdie gevoelentheid soms dat ek die pot heeltemal mis sit, maar andersins gaan dit goed, dankie. Partymaal loop ek van vertrek na vertrek, kyk na die deurmekaar kamers en draai dan maar weer om. Ek verlang daarna om my ma en stiefpa en sussie se lywe in daardie kamers te sien, maar andersins gaan dit goed, dankie. Ek verlang na my skoonmense en my skoonsussie, wat nog nooit haar broerskind vasgehou en gesoen het nie, maar andersins, kan ek nie kla nie, dankie. Partydae verlang ek so dat dit voel die huis druk my vas, dan gaan sit ons en kyk hoe die son ondergaan by Quinns Rock en ons stuur whatsup foto’s vir hulle, maar dit inaggenome, gaan dit werklik goed, dankie.

Ek is partymaal so eensaam dat wanneer ek wel met ander vrouens gesels, my spoeg skoon opraak van die baie gesels, maar ten spyte daarvan gaan dit goed, dankie. Ek verlang soms na mense wat ek nog moet ontmoet, maar ek weet nie hoe ek hulle gaan ontmoet as ek nêrens heen gaan nie, maar ten spyte van daardie swanger ontmoeting, gaan dit goed, baie dankie.

Die skrywer van “All is well with my soul” het daardie lied geskryf nadat hy sy kinders verloor het toe hulle boot gesink het. Ek dink dat dit is hoe ek daardie vraag in die vervolg sal antwoord – Dit gaan goed met my siel. Al sou die vyeboom nie bot nie, al sou die olyfoes misluk, nogtans sal ek in my Here jubel, sal ek juig in God my Redder, want die Here my God, gee vir my krag, Hy maak my voete soos die van ’n ribbok, op hoë berge laat Hy my veilig loop. Ja, ek dink dit is die beste antwoord – It is well with my soul.

Dankie vriendin, dat jy die tyd geneem het om my te vra hoe dit met my gaan. Jy is kosbaar en spesiaal en ek is baie lief vir jou.

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s