Die Geskenk

Kom luister my kind,
kom luister na my,
na die klank van my stem,
en die hart van my siel.

Kom luister my kind,
kom luister na my,
na die storie van my lippe,
en die knopings van my tong.

Ek gaan jou vertel,
van geskenke in bloed
met vuiste gebal
en harte verwar.

So het die storie begin, die storie wat die man by die vuur vertel het. Ek hou van ‘happy endings’, maar hierdie is een van geen einde, een so oud soos die berge self, een waaraan jy kan skryf tot jy blou is, en eers wanneer jy sterf, jy miskien die antwoord sal kry oor die ‘hoekom?’ wat jy dalk sou vra.

Só het die storie begin, en ek het nader geskuif om beter te luister.

Die ou vrou in die agter grond het die tema lied van The Princess Bride geneurie, en dit het saam geval met die ritme van die ou man se vertelling.

Kom luister my kind,
kom luister na my,
na die pyn van my hart,
oor die mense van my.

Want is dit reg,
is dit goed,
dat miljoene moet swoeg,
wyl die minderheid juig?

Of is dit reg,
is dit goed,
dat jy verdoem is,
oor die pigment van jou saad?

Die ou man se storie het soos ’n gekreukelde laken ontvou en vertel van ’n nasie van mense, die onderdrukking van vlees en bloed, en die selfbeskikking wat hul nie sou deel. Die kreukels van die voue het verhale vertel van mense wat verminder is tot bietjie meer as ’n dier, terwyl hul eintlik slegs bietjie minder as ’n hemelse wese geskape is. Hoe hartseer wanneer vrees vir onbekende dinge maak dat jy jou wapens nader aan jou hart jou, so naby dat jy jouself dodelik verwond.

Die vonkies het die man se gesig meer verkreukel, sy oë dieper laat gloei.

Die ou vrou het aanhou neurie, maar nou het ’n meer aardse lied begin vorm aanneem. Een wat vra om seënings vir ’n land aan die punt van ’n kontinent.

Is verkeerd steeds verkeerd,
wanneer almal dit doen?
Is reg steeds reg,
wanneer niemand dit doen?

Kom vertel jy my,
my kind,
wat jy sou doen,
as jy jou môres kon ken?

Want, daar was ’n man, só vertel die ou man, wat kom opstaan het vir hulle wat nie kon. Daar was ’n man, wat lief gehad het, wie die wet gesê het hy mag nie. Hierdie man se gewete het hom gery, om op te staan vir dit wat reg was, toe sy mense verkeerd reg gepraat het. Saam ander het hierdie man gebou aan die geskenk van vryheid. Vryheid om te kies, vryheid om te bly, vryheid om te groei, vryheid om te leef, vryheid om te droom, vryheid om saam te bou.

Die vuur maak kole, die ketel begin stoom. Die ou man raak driftig, kyk verby my verby.

Die ou vrou wieg liggies, asof sy haarself wil troos. Sy hou aan neurie, maar die gebed word ’n smeking om genade, genade onbeskryflik groot.

Wat dink jy, my kind
hoe koop jy ’n persent,
met bloed en skrapnel,
wat kansels verskeur?

Vertel my, my seun,
hoe duur kos so ding,
wanneer jy klippe kap,
jaar, na jaar, na jaar, na jaar?

Sal jy ooit kan vergeet
van die prys van die ding,
die duurgekoopte geskenk
wanneer jy dit sien?

Die wonderwerk het gekom na jare se klippe kap, vertel die ou man. Toe mense mekaar gesien het as net minder as hemelse wesens wat hul was, en nie net meer as diere wat sommige gepreek het nie. Die man met sy geliefde, het bly gaan staan, en hand aan hand gekyk hoe die geskenk oopgemaak word.

Die koffie reuk vul die lug, die hitte vou soos ’n warm jas om my arms, maar die ou man sidder, asof die koue soos ’n slang om sy rug kom draai.

Die ou vrou kyk nou, verby my verby, haar neurie word woorde.

Siembamba, mamma se kindjie,
siembamba, mamma se kindjie,
draai sy nek om,
gooi hom in die sloot,
trap op sy kop,
dan is hy dood.

As jy jou môres ken, seun,
as jy geweet het wat wag,
wat sou jy doen,
wanneer jy moes staan?

As jy geweet het,
van die moord en die dood
die roof en die bloed,
die haat en die hoon.

Wat sou jy doen, seun?
Wat sou jy doen?
Sou jy steeds opstaan?
Sou reg steeds reg wees?

Ek weet nie of die ou man ’n antwoord soek nie. Ek sou hom nie een kon gee nie. Ek ken my eie hart, en weet hoe vinnig ek soos net meer as ’n dier kan word wanneer ek my vyand vervloek. Ek weet van die donkerte wat in my skuil wanneer ek lees van die moordenaars van ’n ou verrimpelde vrou, en ek die reg in my eie hande wil neem en hul tereg wil stel op die wreedste ondenkbare manier.

En skielik kry ek ook koud, asof daardie slang van ouds, met sy listigheid, tot binne-in my seil.

Die ou vrou fluister saggies, amper onhoorbaar, “Eli, Eli, lama sabagtani.”

Dan begin jy weer staan, my seun,
jy begin weer staan,
teen die nuwe verkeerd,
en vir die ou reg.

Hoor jy, my kind,
reg is reg,
en verkeerd is verkeerd,
en jy staan, al staan jy alleen.

Want, eens op ’n tyd
het die Woord gekom,
en die Woord het lyf gekry,
en die Woord het gebloei.

Die ou man trek sy longe vol, en sug hul leeg. Hy kyk op na die hemele, waar hy sy hulp vandaan kry. Ek weet hy weet dat ek sy storie ken. Sy verhaal van tuiser wees in ’n ander land as in sy geboorte plek. Die trane oor sy wange het die kepe uitgekerf, soos die ontnugterig in ’n verwoeste geskenk soos dolke hom deurboor het. Nooit het hy kon dink dat hy bang sou wees vir dié namens wie hy gestaan het nie. Hy het geglo dat die geskenk van jare se klippe kap, dubbele tyd se afsondering, waarde sou dra. Kosbaar sou wees. Dit word nou gebruik as die voettrap van vergrype.

Die as is verbrande hout, hier en daar gloei ’n kooltjie nog.

Die ou vrou is stil. Haar trane loop teen haar keel af.

Jy sien, seun
mens vat nie geskenke terug,
selfs bloedgekoopte geskenke,
selfs al word dit nie waardeer.

En as ek my môres sou ken,
sou ek steeds my stane staan?
Sou reg steeds reg wees,
en verkeerd steeds verkeerd?

Ja, my kind,
ek sou steeds staan,
want reg bly reg,
ook wanneer niemand staan.

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s