Ek Bedank!

“Ekskuus tog, kan iemand my sê waar die HR department is? Ek wil my posbeskrywing laat verander, en as ek dit nie kan doen nie, dan moet ek seriously dink aan ander werk soek.”

‘Hulle’ vertel dit nie vir jou die dag wanneer jy, stralend en bloesend daar voor die groot houtkansel, waar die duif wat hemelwaarts styg, op groot purper fluweel hang, (on)maagdelik in wit, ewig trou beloof, tot die dood jul skei, dat jy eendag gaan wil bedank nie. ‘Hulle’ vertel nie vir jou, terwyl jy ‘gemaak’ naïef op die stoel staan en wag dat jou geliefde die kousband van jou bobeen moet aftrek, dat daar ’n dag gaan kom wat jy jou goed wil vat en wegloop, en soos ’n kluisenaarskrap binne in jou dop wil gaan sit, in ’n gat wat jy gegrawe het, nie omdat jy kwaad is vir die man nie, maar omdat jy so totaal magteloos en oorweldig voel.

Want, êrens in die afgelope twee dekades wat ek ’n lewe deel met die man, wat deel van my hartklop geword het, het ek die werk van God begin oorneem in sy lewe. En toe ek kinders kry, het ek my posbeskrywing van vrou na ma na God vergroot.

Dit het begin die dag toe hy die oproep kry van die dokter wat vir hom vertel dat al is my gade in die eg allergies vir baie dinge, dit nie so lewensbedreigend is as die cholesterol wat so hel hoog is nie. Toe begin ek die posbeskrywing al wyer maak.

En gister kry hy weer ’n oproep. Op ’n Sondag van alle dae (dan moet dit ernstig wees dan nie?) van die ‘nutritionist’ wat ook ’n ‘practitioner nurse’ is en sy vertel hom sy cholesterol is weer op. Die naam van die kardioloog is sus en so… en daar sit ek… en ek dink, ‘I did not sign up for this. Waar bedank ek? Want, die Here weet, hoe hou ek drie mense aan die lewe?”

So word ek gedompel in die wêreld van Familial Hypercholesterolaemia. Dit is in die gene, vertel hulle wie weet. Die Afrikaner volk is voorlopers in die ding en daar is 1 uit elke 70 wat hiermee sit. Waarom altyd die Afrikaner volk? Kan ons nie bietjie net ophou om sulke voorlopers te wees nie? Die Hollanders is die eintlike probleem vertel ‘hulle’ my, dit is daardie lot wie se bloed nou in my man se voorsate se are loop.

Ek dokter Google en ek lees dat cholesterol goed is vir ou mense, maar nie goed vir middeljarige mans nie. ’n Vriendin vertel my dat hierdie ding van ‘in my gene’ dalk ’n vloek is, en ek dink aan Caroline Leaf wat preek dat jy is wat jy sê jy is. En ek dink, hiervoor het ek nie krag nie. Ek praat lankal nie meer met die duiwel nie, ek praat met God, want is Hy nie God ook oor die duiwel nie?

‘Hulle’ vertel nie vir jou die dag wanneer jy so stop en stap en stap en stop daar in die gangetjie afloop dat wanneer jy een word met hierdie mens, wat daar staan met die sweet wat teen sy nek afloop, dat jy gaan verantwoordelik voel vir hoe lank hy in die lewe bly nie. ‘Hulle’ vertel jou nie dat jy die vinger altyd na jouself gaan draai en sê ‘Mea culpa.’ ‘Hulle’ vertel jou nie dat die mense gaan sê en dink dat jy as die vrou van die huis, die ma van die kinders, tog sweerlik iets kon gedoen het om seker te maak dat hulle gesonder lewe en gevolglik langer lewe nie. Jy besef nie, terwyl jy afloop in die gangetjie dat die mense nie opstaan as ’n erewag vir ’n bruid nie, hulle staan op uit simpatie met ’n mens wat haarself tot God gaan verhoog, een of ander tyd.

Daarom vandag die belydenis, die bedankingsbrief,

Here,

ek bedank as die bron van lewe vir my man en kinders. U het hulle gemaak, en U kan hulle sweerlik in die lewe hou ook. Ek is nou moeg geworry oor hoeveel van dit en hoeveel van dat hulle moet eet. Ek haal nou daardie chip van my skouer af, dê, vat dit, ek wil dit nie meer hê nie.

Ek weet nie hoe U dit gaan doen nie, en quite frankly, ek gee nie vreeslik om vandag nie, ek het net nodig om te weet dat U dit wel gaan doen, want U kan mos, ne?

Ek wil my tyd met hulle geniet. Ek wil hulle onbevange lief hê. Dit is al wat ek wil doen. Ek wil nie die heeltyd tob oor die omega drie olies, en die vesel, en die cholesterol en die suiker van goed nie. Ek wil net ma wees, en vrou wees, en vriendin wees.

So, hier is my manne. My man en my kinders. Hier is hulle, vat hulle. Hou hulle in die lewe, maak hulle gesond, asseblief.

Ek is nie meer god nie. Ek was nog nooit God nie, en die mense kan bitter bly wees dat dit nie my job is nie. Ek is jammer dat ek ooit probeer het, vergewe my asseblief.

Help my tog, om genoeg te wees vir hulle. Genoeg ma, genoeg vrou. Help my om hulle genoeg te gee van watookal hulle nodig het.

Dis dan dit.

O ja,

Amen

2 thoughts on “Ek Bedank!

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s