Laat dit tog net ‘n poep wees…

Dit het begin met ’n poep, nie een van daardie harde poepe nie, ook nie een van daardie stilletjies met ’n dodelike klank nie. Nee, die een het nie die liggaam verlaat nie, maar die vernietiging wat dit saai in die holtes van jou borskas, die naarheid in jou pens, en veral in die kronkelpaaie van jou brein is nie elke man se maat nie.

Want, het jy geweet dat so ’n poep en die slegte spysvertering wat daarmee saamgaan, skrikwekkend naby aan ’n paniekaanval en hartaanval sit? En wanneer jou mediese praktisyn jou boonop op die Sondag voor die Dinsdag van die groot sooibrand, wat nie soos sooibrand voel nie, maar soos ’n verdomde hartaanval, bel en sê dat sy jou na die kardioloog verwys, dan begin jou brein vir jou vertel dat jy voor die dood se deur is, en jy begin sommer daar en dan lus vir die lewe verloor… en ses kilogram feitlik oornag van die stres. (Jou vrou staan jou naaktheid en beloer in die oggend wanneer jy stort en jy kan die jammer uitdrukking sien. Jy kan ook sien sy wens sy kan so gewig verloor wanneer sy stres.)

Wat doen jy dus, op ’n Dinsdag aand wanneer die pyn nie wil wyk, die beklemming bly om jou bors span? Jy gaan maar ongevalle toe, op jou eie stoom en jy vertel vir hulle dat jy ’n pyn in jou bors het. In jou verdediging noem jy konstant dat dit voel soos ’n wind wat vassteek, maar hulle skeer die gryswordende borshare van jou bors af, plak die plakkers wat vasster sit as kak aan ’n wolkombers, druk ’n plastic naald in jou arm, en bring later vir jou ’n bottel om in te pie. En jy wonder wanneer gaan jy die witlig begin raaksien? Of die doodsengel in die hoek van die kamer sien staan, soos baie mense jou al vertel het dit gebeur.

Die EKG’s wys niks, die soeke na adrenalien in jou bloed bly ’n soeke en jy kry die instruksie, ‘Gaan sien jou GP more, maar ons sien niks fout nie.’ En jy wonder, waarom het jy nou eintlik hierdie aangename Pakistanse dokter se tyd kom mors. Jy ry dan terug na jou huis om half drie die Woensdag oggend, waar jou vrou en hond vir jou wag. Dan klim jy in die bed, en stres verder oor die dowwe gevoel op jou borskas nie wil weggaan nie, tot jy so bietjie gaan wind afblaas in die klein meter by meter vertrekkie.

Die dokters raai ook maar almal, dink jy. Google vertel vir jou dat jy met jou simptome ’n menigte goed het wat verkeerd is met jou. As jy so luister wanneer jou vreeslike slim vrou vir jou vertel van al die simptome, moes jy al dood gewees het. Sy is net bekommerd oor die ongetekende testamente en kies duidelik al die begrafnisrokkie uit waarmee sy in die kerk gaan instap. Ding is net, julle het nie werklik ’n kerk nie, en as sy haar sin kan kry, sal sy seker ook nog die begrafnisboodskap bring ook. Dis net, jy is nie lus om nou dood te gaan nie. Reg miskien, maar wragtig nie lus nie. Hel man, jou kinders is nog klein, en jy wil nog so baie dinge doen. Skielik verstaan jy hoekom die middeljarige mans vir hulle sportsmodels, die vierwiel en die twee been soort aanskaf. Jy het net nie nou die krag vir die twee been soort nie, flip, dit vat genoeg van jou net om met die een klaar te kom. Groener gras = meer stront.

Die GP weet ook nie veel nie, maar bel ’n paar ouens en jy kan Vrydag ’n kardioloog sien. Hulle wil eers die moontlikheid van ’n hart uitsorteer, en dan sal hulle kyk na stres en dalk sal jy ’n kamera moet sluk sodat hulle kan kyk wat in jou binnegoete aangaan. Hemel mense, kan ’n wind wat vassteek werklik so baie probleme veroorsaak?

Dan weer, miskien was dit ’n paniekaanval, of miskien was dit ’n hartaanval.

Here, laat dit tog maar net ’n poep wees, asseblief.

One thought on “Laat dit tog net ‘n poep wees…

  1. Pingback: Are your Affairs in Order? (Part one of why an Australian will is important for South African Migrants) | Marlize Venter

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s