Wag jou kind vir jou?

In Baragwanath hospitaal is daar ‘n saal met babas.  Vet, blinkwang kindertjies wat wag op iemand wie hul kan lief hê.  In dieselfde hospitaal, aangrensend aan die saal, is daar ‘n toe deur.  En agter daardie toe deur het hierdie storie begin.
Die Here het duidelik aan haar gewys dat sy ‘n kindjie moes aanneem.  Toe sy by die hospitaal in stap het die verpleegpersoneel haar met ope arms ontvang en deur die saal geneem.  Die saal met die babas wat wag.  Kindertjies wie se mammas besluit het dat hul nie die pad verder met die vrug van hul skoot wou loop nie.  Sy kon kies.
Hoe kies jy ‘n kind?  Hoe weet jy watter een is die een?  Wanneer jy geboorte skenk aan jou eie, moet jy vat wat jy kry, wanneer jy aanneem is jy te dankbaar om iemand te kry, maar wanneer jy kan kies… hoe kies jy ‘n kind?
Sy het gestaan en gewag en toe gesien.  Die deur.  Die toe deur.
“Wat is agter daardie deur,” wou sy weet?
“Nee mevrou, dit is die babas wat op die rubbish tips en uit die vullisblikke gehaal word.  Ons hou hulle vir drie dae op binne-aarse voeding en as hul nie floreer nie, dan haal ons dit af, en los hul om te sterf.”
Here, is dit genade dood?
Hoe kies jy ‘n kind?
“Is daar nou ‘n kindjie?” vra sy.
“Ja, daar is, maar dit is reeds haar derde dag, en sy floreer nie.  Sy wil nie drink nie.”
“Dit is my kind daardie. Dit is die kind wie ek kies.”  Die vasberadenheid slaan soos ‘n steeks donkie vas.
“Maar mevrou, sy gaan sterf, sy wil nie drink nie.  Kyk al die gesonde kindertjies, kies vir jou een hier.”
“Julle verstaan nie, daardie is my kind.  Sy het vir my gewag.  Bring haar.”  Wanneer ‘n ma praat dan is daar iets anders in haar stem.
Hulle het die kleine mensie gaan haal met ‘n bottel.  Twee paar oë het mekaar ontmoet met ‘n herkenning wat uit ‘n voortyd kom.  Haar mondjie het soos ‘n voëltjie s’n oopgegaan en die tiet gulsig begin suig.  Melk skuimbolle het om die lippies gevorm.  Die aanvanklike stilte is gebreek deur die opgewonde gejuig van die verpleegpersoneel. Een het terstond die kindjie geneem en probeer voer.  Die lippies het in vasberadenheid toegegaan en sy het haar koppie weggedraai na die vrou wat gestaan en wag het.  Terug in haar arms het sy weer begin drink.
“Ek het julle gesê, daardie is my kind, sy het vir my gewag.”
Jy kies nie ‘n kind nie.  God kies jou kind, en jy weet net dat jy weet.
Hierdie ware verhaal is aan my vertel, nie deur die ma self nie.  Dit was iemand anders.  Neem dit die impak daarvan weg?  Nee, allermins.  Toe die storie vertel is was ‘n man een van die aanhoorders, en hy het ewe hard saamgehuil.  Hy meen dat daardie kindjie op ‘n geestelike vlak wel die kind van daardie vrou is, dat daardie kindjie wel vir haar gewag het.
Nou vra ek jou – Hoeveel kinders wag vir ons?  Hoeveel babas word na drie dae van die voeding afgehaal omdat hul ma’s nie opgedaag het nie?

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s