Hierdie kind…

’n Paar dae nou al loop ek met die ding in my gedagtes rond: ‘Vertel jou storie.’

Ons het mos almal ’n storie en soms klink myne so gewoon en alledaags, maar gister, toe my lewe vir ’n oomblik buite sy wentelbaan geruk word weet ek, nou is die tyd. As dit nie is om iemand anders moed te gee nie, dan net vir my om weer te onthou.

Ek was pas 21 toe ek getroud is. Ek wou nie kinders hê nie en het dit wyd en syd verkondig. (Tel jou woorde.) Op 27 begin my biologiese klok toe tik. Ek wou kinders hê. Ons het alles in plek begin sit. ’n Spaar plan uitgeneem sodat die kindjie in privaat skole kon wees terwyl mamma en pappa in die sweet van hulle aangesig hulle brood en botter en hopelik bietjie biltong ook verdien het.

’n Swangerskap toets of drie elke maand en die twee strepies bly weg. Ons het toetse laat doen en ek het ‘n laparoskopie ondergaan. Die dokters het gesê dat vrugbaarheidsbehandeling nie sou werk nie, dus het ons nie eens probeer nie. Ek het in my kar in ’n parkeer area naby Krugersdorp gesit en al wat ek kon dink was, ‘Al sou die vyeboom nie bot nie, al sou die olyfoes misluk, nogtans sal ek in my Here jubel, sal ek juig in God my redder!’ oor en oor het dit refrein. Die aand het ek in my sitkamer gestaan met hande uitgestrek na bo terwyl Anneli van Rooyen se Halleluja gespeel het en ek net trane gehad het om te offer.

Die pyn van elke maand se “Nee” was meer as wat ek aan enige mens kon en kan verduidelik. Elke tweede vrou was swanger. Elke winkel trollie het ’n snotneus kleuter of baba ingehad. Jou oë word vanselfsprekend getrek deur ’n magie wat boep staan. Vir ander vrouens voel dit na hitte gloede, vir jou lyk dit na ’n stralekrans. Elke maand maak jy vrede, net om twee weke in die volgende maand in weer te begin dink, ‘Miskien die maand.’

Tydens Bybelskool het ek woord gekry van ’n geskenk wat wag, maar dat ek dit versigtig moes oop maak. Die vervulling van die woord het weggebly. Ek het besluit ,‘As ek nie vir my eie kind kan lief wees nie, sal ek lief wees vir ander mense se kinders.’ Ek het betrokke geraak by die kerk se jeug en vir die jongmense lief geword asof hulle werklik myne was. Hulle het gedeel in my seer en hulle saam gebid en profeteer oor my.

Ons het ‘n laaste besoek aan ‘n vrugbaarheidspesialis gedoen. Op die 23ste Desember 2004 het die spesialis gesê het dat daar bykans geen kans was om ons eie kindjie te hê nie. Ek sal nie vergeet hoe ek gestaan en huil het in my man se arms in die parkeer area van die hospitaal nie. Dit het gereën buite en dit het gereën in my binneste. Ons het soveel liefde, soveel om te gee…

My pa is einde 2001 dood. Alhoewel ek vrede gemaak het met die verlies aan hom, is daar dae wat die verlange meer is as ander. Die 4de Junie 2005 was een so ’n dag. Daardie week was feesviering week by die kerk. Vir my was dit ’n stukkend voel dag, ’n dag waar ek net langs my daddy wou gaan sit en onder sy vlerk inkruip. ’n Dag wat ek so graag wou hoor ek moenie worry nie, als sal regkom. In die kerk het die een man gepraat oor ’n aand by die Koning en wat jy Hom sou vra as jy die kans kon hê. Die gemeentetjie is klein en intiem en almal het gereeld spreekbeurt gekry, maar daardie dag het ek (wie gewoonlik baie te sê het) nie lus gehad om te praat nie. Ek wou net sit en wees. Hy het so op ’n hoek begin en mense gevra wat hulle van die Here sou vra as hulle kon en al wat ek kon doen, is om my duim nael te kou asof my lewe daarvan afgehang het. En wrintie kom stop die man voor my:

“Marlize, as jy ’n nag by die Koning kon hê, wat sou jy vra?”

Vir die eerste keer het ek myself toegelaat om hardop te vra vir die begeerte van my hart.

“As ek mag vra sou ek vra vir ’n kindjie van my eie. Een wie ek kan bring tot voor die Here en sê ‘Hier is hy Here, die kind wie U my gegee het.’”

Alles in my menswees het geskreeu vir ‘n kleine mensie. Ek en Andries het voor gaan staan toe die geleentheid gegee is vir gebed. Jy staan mos maar so, met jou eie innerlike stryd, smekend om ’n antwoord en so baie maal is dit ’n blote gebed, ’n smeking van ’n ander mens wie meng met die smeking van jou hart en jy loop weg, altyd met die hoop, maar nooit met die absolute versekering nie. Daardie aand van die 4de Junie 2005 was anders. Daardie aand het die Here direk gepraat.

’n Jong meisie van skaars 22 het gekom en begin bid en geprofeteer en sy het begin met:

“Die Here sê julle sal ’n seun hê.”

En dadelik het ek gedink ‘Ek wil so graag ’n dogtertjie hê.’ Die cheek!

En onmiddellik sê sy: “He will doubly honour you!”

Later die aand het sy gekom en sê dat die Here sê sy naam moet Neal wees. Dit beteken kampioen. My hoop het ’n vaste versekering geword. Al sou ek nóg vier jaar moes wag het ek geweet Hy sal doen wat Hy sê.

Drie maande later op die 3de September 2005 het ek die eerste van drie positiewe swangerskap toetse gedoen! Toe ek my nuus met ’n kollega deel was haar woorde: “Your faith must be really strong.” Nee, my geloof was nie sterk nie, my God is almagtig!

Van die begin af het ek urienweg insfeksies gehad en op twaalf weke ’n dreigende miskraam. Ek het geworstel, gevra en gepleit en selfs ooreenkomste probeer aangaan. Later het stille aanvaarding gekom dat maak nie saak wat nie… Hy bly God en ek sal Hom bly dien al verstaan ek nie. Die bloedtoets uitslae het gewys daar was ’n kans dat ons seuntjie gestremd sou wees. Die dokter het ‘n amniosintese aanbeveel. Ons het teen die toetse besluit. Hierdie kind was deur God in my liggaam geplaas, hy was ’n kampioen en hierdie was sy eerste oorwinning.

Een middag ry terwyl ek oor ’n bult buite Hartebeespoortdam gery het, het ek die Here gevra of ek maar mag vra dat my kind normaal is en duidelik die vraag in my hart gehoor: “Wat is normaal vir jou, Marlize?”

Wat is werklik normaal? Is ek? Jy? Ek gesels toe maar voort: “Here, as my kind U kan ken, U Woord kan lees, met U kan gesels – dit sal vir my voldoende wees en Here wat ’n bonus as hy hande en voete en werkende ledemate het, maar Here, ’n verhouding met U is vir my die belangrikste.” Toe was dit klaar. Ek het geweet wat normaal vir my was. Neal was gebore op 2 Mei 2006. Normaal in die mediese beskrywing.

Drie jaar later, einde April 2009 begin ek en Andries dink aan ons “Doubly honour”. Neal begin saambid tot pappa God vir ons baba. Ons het klaar naam uitgekies. Die naam kom van shalom af.

Hier is die betekenis (shaw-lome’; from 7999; safe, i.e. (fig.) well, happy, friendly; also (abstr.) welfare, i.e. health, prosperity, peace:— × do, familiar, × fare, favour, + friend, × great, (good) health, (× perfect, such as be at) peace (-able, -ably), prosper (-ity, -ous), rest, safe (-ty), salute, welfare, (× all is, be) well, × wholly.)

Hierdie keer het ek ’n vaste versekering gehad– Hy het belowe Hy sal ons dubbeld eer en Hy het ’n goeie “track record”. ’n Span van Elijah Africa het Kalgoorlie kom besoek en Andries het met hulle gaan gesels. Ons het gevra dat hulle asseblief vir ons moes bid sodat ons weer swanger raak. Dit was êrens in Junie 2010. Middel Julie was ons swanger!

Hierdie swangerskap het vlot verloop. Ek was lekker naar en het ongemaklik geslaap. Ons het vir 6 weke in Suid-Afrika gaan kuier en het daar die 14 weke sonar laat doen. Iets wat die radiografis gesê het, bly my by. Hy het gevra of ek al ’n laparoskopie gehad het. Ek het ja geantwoord, waarop hy toe genoem het dat dit eintlik baie snaaks was dat ek al ’n tweede swangerskap het. Ons weet ons beleef wonderwerke – hierdie is maar net beloftes wat die Here waarmaak.

Tot gister, toe my lewe uit weer uit sy wentelbaan geruk is. Die dokter het gebel en gesê die bloedtoetse wat ek gedoen het op Maandag wys ek het ’n 1:22 kans vir ’n Down Sindroom baba. (Dit nadat ek die middag met my ma geskypechat het en gesê het geen nuus van die dokter is seker maar goeie nuus.) Hy sou dadelik ’n afspraak maak vir ’n amniosintese vir Woensdag. Die kans op miskraam na ‘n amnio is baie klein -1:300. Ek is nie bang vir die gestremde baba nie, maar vir die toets. Die Here weet, ek weet dat hierdie swangerskap ’n waarmaking van sy woord is, sê nou ek doen iets wat die swangerskap in die weegskaal plaas? Sê nou my toets van die Here se belofte doen dat ek hierdie lewe, wie reeds voor die grondlegging van die aarde geskep is, in gevaar plaas? Vanoggend toe die dokter bel en sê die afspraak is bevestig toe sê ek baie dankie, maar ons gaan nie die toets doen nie. Ons sal opswot en probeer om so gereed as moontlik te wees, maar nee, ons is net bly om swanger te wees.

Hierdie is my storie. Ek is 17 weke swanger en ek word weer soos meer as vier jaar terug die vraag gevra: “Marlize, vertel jy nou vir my wat is normaal? Kan jy alles beplan? Kan jy in beheer wees van alles?” En ek dink aan kinders wie gestremd raak na geboorte. Ek dink aan mense wie beroertes kry in hulle grootmens jare en wie skielik soos kinders is. En ek besef dat dit die lewe is. Jy kan nie die lewe vooruit beplan nie, jy kan dit net leef. En met die krag van die Here alleen en sy ryklike genade (as jy in Hom glo en selfs wanneer jy nie glo nie – want selfs dan het jy dit sonder dat jy weet) kan jy. Daarom vanaand ten aanskoue van jy wie hier lees wil ek sing, met trane in my keel wat my mondhoeke trek en my oë verblind, ‘Al sou die vyeboom nie bot nie, al sou die olyfoes misluk, nogtans sal ek in my Here jubel sal ek juig in God my redder!’ My Here is ’n waarmaker van sy woord, wanneer ek nie meer weet waarheen nie is Hy altyd daar. Selfs al voel ek skuldig oor ek nie gereeld Bybelstudie doen nie, nie ure in gebed spandeer nie, is Hy daar. “He will never leave me nor forsake me.”

Wat is normaal? Here, dat my kind U ken, U loof, U woord ken en U gehoorsaam. Here, as my kind ander na U kan lei. Here en as ek mag vra ’n verstand wat funksioneer, ’n liggaam wat kan hardloop en speel en drukkies gee en soentjies uitdeel. As ek mag vra… Hierdie kind se naam is van Shalom af. Hierdie kind se naam beteken – veilig, gelukkig, vriendelik, gesondheid, vooruitgang, vrede. Hierdie kind is alles wat die duiwel van ons wil steel. Hierdie kind IS Shalom! Geheel en al. Ek sal jubel in my Here, ek sal juig in God my Redder! Shalom!

P.S. Klein Shaloum Venter, is die 16de Maart 2011 gebore en is vandag vier jaar oud!

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s