Is jy ‘n Verraaier?

Liewe H,

ek loop en ek loop en ek loop met die term verraaier in my kop. Ek kou hom, en gaan haal dit soos ’n koei ’n koutjie gaan haal en kou hom weer. Dit word nie sagter nie, dit word klipsteen hard. Ek kry dit nie verteer nie. Die ding word net groter en groter en groter… en iets wat ’n eenvoudige antwoord moes wees, kry lewe in die wroegings van my siel.

Want, waarom is dit dat ons as Afrikaner oor immigrasie dink as vlug? Waarom is dit dat ons ’n oorlogsterm aan trek van een vasteland na ’n ander vasteland koppel? Hoekom voel baie soos ’n verraaier?

Ek het nooit soos ’n verraaier gevoel nie. Ek dink dit help dat ek Louis Giglio se Indescribable gekyk het, waar hy ons hier op aarde binne konteks plaas van die groter prentjie van dinge. Dit het by beide my man en myself tot die gevolgtrekking laat kom dat ruimte, en die plek waar ons ons bevind, somtyds irrelevant is. Dat die emosionele band wat ons vorm met grond, soms onrealisties is. Dat ons, ons werklik in ’n global village bevind en dat die wêreld, die hele wêreld aan ons gegee is om te gaan ontdek en te besoek.

Ook het ek hier kom agterkom dat God ook hier is. Dat Hy hier is omdat ek hier is, omdat Hy binne my is.

Terug by die verraaier ding. Ek het gaan opkyk wat die woord verraaier beteken, weliswaar in die Engelse woordeboeke, want die HAT is onvoldoende om die ware betekenins vas te vat. ’n Verraaier is iemand wat geheime oor hul vriende en hul land weggee. Dit is iemand wie iets doen wat gevaar kan skep vir sy land, soos om vyande te help tydens ’n geval van oorlog.

Wat is ’n oorlog? ’n Oorlog is ’n situasie waartydens twee of meer lande of groepe mense teen mekaar baklei oor ’n tydsperiode ten einde iets onaangenaams te stop. Jy kry natuurlik burgeroorlog ook wat ’n oorlog is tussen mense in dieselfde land.

Wat beteken dit dus om te vlug wanneer jy in ’n oorlog situasie is? Dit beteken om ’n plek of persoon vinnig te moet verlaat, veral omdat jy bang is vir moontlike gevaar.

Waarom voel mense soos verraaiers? Ek weet dat dit so voel, maar daar is nie werklik ’n oorlog in Suid-Afrika aan die gang nie. Die geweld en die misdaad is verskriklik erg, maar elke Suid-Afrikaner loop deur daaronder, van die goggo in die township tot die ouma in die meenthuiskompleks met die sekuriteitshekke en die veiligheidskameras om elke skelm se elke beweging dop te hou.

Lap jy geheime uit wat Suid-Afrika se veiligheid in gevaar stel? Lap jy geheime uit wat jou vriende se lewe in gevaar stel? Allermins. Inteendeel, jy bid vir hulle. Jy dra hulle op voor jou Hemelse Vader, wat eintlik hier neffens jou is. Wie weet hoeveel lewens jou opregte en traanbevlekte gebede al gered het?

Kan dit wees dat ons soos verraaiers voel omdat ons wanneer ons Die Stem sing, belowe dat ons in lewe en in sterwe sal wees vir die land Suid-Afrika?

Ek sit vir jou ’n ding in wat ek geskryf het oor hoekom ek nie Die Stem meer sing nie. Weet asseblief dat hierdie my opinie is, en dat ek vir geen oomblik verwag dat jy so moet voel nie. Ek vra jou ook om my nie te oordeel omdat ek dink en doen soos ek doen nie. Hierdie is my pad, soos jou pad jou pad is. Maak dit my verkeerd? Maak dit jou verkeerd as jy verskil van my? Inteendeel… die vraag is, kan ek bydra tot jou lewe? En kan jy tot myne? Nie wie is reg en wie is verkeerd nie. Reg en verkeerd kom hier glad nie ter sprake nie.

Daar is baie polemiek oor Steve Hofmeyr en Die Stem. Mense staan hand op die bors en sing asof hul lewens daarvan afhang en ek moet bieg, wanneer ek die skare op ‘n rugby stadium hoor dreun “Uit die blou van onse hemel” dan is dit asof daar ‘n knop in die keel kom sit. Tog, toe ek een van die onlangse openings op TV kyk en ek sien en hoor hoe die hele skare die hele Suid Afrikaanse volkslied saamsing, toe was my vreugde en trots nog groter. Daar was nie ‘n mompeling van die eerste twee verse nie en dan die tsunami van die bloue hemele en ‘n halwe poging vir die Engelse strofe nie. Die hele lied was gesing met passie, en dit was mooi. En ek was trots.

Hierdie stuk skryf ek nou al ‘n paar maande in my hart, maar die moed het ontbreek om dit op papier te sit. Ek hou daarvan dat mense my ‘posts like’ en ek het so gevoelentheid dat van my vriende my dalk mag ‘unfriend’ wanneer hulle die post klaar gelees het. Maar vandag is die regte dag, vir een of ander rede.

‘n Ruk terug was daar iets op een van die facebook blaaie waaraan ek behoort oor Die Stem, en die een dame het gesê dat dit duidelik is dat dit ‘n Gees geïnspireerde gedig is. En dadelik het die hare op my nek regop gestaan. Ek ken die Gees. Ek lees die Bybel. En ek dink sy het die pot so effe misgesit.

Een gewilde sêding onder christene is: “Spreek lewe en nie dood nie.” Hoe ironies is dit nie, dat baie van die ouens wat Sondag na Sondag “Name it and claim it” die Saterdag aand voor dit by die konserte saamwieg en hul asem dieper intrek vir een van die laaste verse.

Kom ons kyk na die woorde van Die Stem, soos gedig deur C.J. Langenhoven. (Interessant dat hy ook ‘n vrymesselaar was.)

Uit die blou van onse hemel, 
Uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes
Waar die kranse antwoord gee.
Deur ons vêr verlate vlaktes
Met die kreun van ossewa.
Ruis die stem van ons geliefde,
Van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem,
Ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe,
Ons vir jou, Suid-Afrika.
In die murg van ons gebeente,
in ons hart en siel en gees,
In ons roem op ons verlede,
In ons hoop op wat sal wees.
In ons wil en werk en wandel,
Van ons wieg tot aan ons graf.
Deel geen ander land ons liefde,
Trek geen ander trou ons af.
Vaderland, ons sal die adel,
Van jou naam met ere dra:
Waar en trou as Afrikaners,
Kinders van Suid-Afrika.
In die songloed van ons somer,
in ons winternag se kou,
In die lente van ons liefde,
in die lanfer van ons rou.
By die klink van huw’liksklokkies,
by die kluit-klap op die kis.
Streel jou stem ons nooit verniet nie,
Weet jy waar jou kinders is.
Op jou roep sê ons nooit née nie,
Sê ons altyd, altyd ja:
Om te lewe, om te sterwe
Ja, ons kom, Suid-Afrika.
Op U Almag vas vertrouend
het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here!
Om te handhaaf en te hou.
Dat die erwe van ons vadere
Vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste,
Teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het,
Leer ook ons vertrou, o Heer
Met ons land en met ons nasie
Sal dit wel wees, God regeer.

Die einde.

Dit is vir my opmerklik dat die eerste drie strofes ‘n gesprek met Suid-Afrika die land is. En die laaste strofe slegs ‘n nadenke is. Om Iemand te sus en dalk as pligsbesef ingesit is.

As dit waar is dat die krag van lewe en dood in die woorde sit wat jy spreek, wil ek vandag pleit met elke Suid-Afrikaner wat halstarrig vashou aan Die Stem. In Godsnaam, hou daarmee op!

Kyk wat jy sing:

Ons sal antwoord op jou roepstem,
Ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe,
Ons vir jou, Suid-Afrika.
Nêrens in die Woord van God word daar van jou gevra om te sterf vir ‘n land nie. Jy is of vir God of teen Hom. Wat is dit wat Suid-Afrika van jou vra? Ek weet wat God van ons vra: Jy moet die Here jou God lief hê met alles wat in jou is, en jou naaste soos jouself.

In die murg van ons gebeente,
in ons hart en siel en gees,
In ons roem op ons verlede,
In ons hoop op wat sal wees.
In ons wil en werk en wandel,
Van ons wieg tot aan ons graf.
Deel geen ander land ons liefde,
In ons hart en siel en gees deel geen ander land ons liefde. Regtig? Regtig!? Van ons wieg tot aan ons graf…

By die klink van huw’liksklokkies,
by die kluit-klap op die kis.
Streel jou stem ons nooit verniet nie,
Weet jy waar jou kinders is.
Op jou roep sê ons nooit née nie,
Sê ons altyd, altyd ja:
Om te lewe, om te sterwe
Ja, ons kom, Suid-Afrika.

Kyk wat julle sê. Kyk hoe spreek jul dood. “Op jou roep sê ons nooit nee nie, sê ons altyd, altyd ja: om te lewe, om te sterwe, ja, ons kom, Suid-Afrika.”

Ek sit hier in die land wat aanvanklik genoem is “The Great South Land of the Holy Spirit” en die hartseer van die moorde in Suid-Afrika gaan my nie ongesiens verby nie. Ek sien ook die posts (nie uit vrye wil) van Sunet Bridges, die foto’s van die wreedaardig vermoorde boere en die wit plakkerskampe.

Ek lees die dwaasheid van opstokers aan beide kante. Ek lees hoe die media die rassehaat aanvuur omdat dit nuus is en dit hul besigheid is. Ek is nie blind nie. My vraag vandag hier, soos my vraag ‘n week terug aan iemand, “Hoekom is die dood van ‘n Blanke wat wreed vermoor word soveel erger as ‘n Nie-Blanke wat wreed vermoor word? Hoekom is dit so erg dat daar wit plakkkerskampe is, maar ons het nie ‘n issue met swart plakkerskampe nie?” Moord is moord, verkragting is verkragting, armoede is armoede. Sukkel is sukkel. PUNT.

Hierdie stuk van my is nie polities van aard nie. Ek praat met mense wie sê dat hulle God bo alles lief het. Hou op om te profeteer dat jul sal lewe en sal sterwe vir ‘n stuk grond! Julle sê dit, konsert na konsert met jul hand op die bors. Waar lê jul lojaliteit? By watter “regering”? Of in ander wooorde: By watter koninkryk?

Ek laat julle met ‘n ander lied, een wat baie meer my hartsnare roer, een waar ek baie eerder hand op die bors sal saamsing,sou ek my tong om die krulle kon kry.

(Die Afrikaanse vertaling van Nkosi Sikelel i’Afrika)

Seën ons Here God, seën Afrika,
Laat sy mag tot in die hemel reik, 
Hoor ons as ons in gebede vra, 
Seën ons in Afrika,
Kinders van Afrika.
Daal neer o Gees, Heilige Gees,
Daal neer o Gees, Heilige Gees,
Kom woon in ons,
Lei ons, O Heilige Gees.
Hou U hand o Heer oor Afrika,
Lei ons tot by eenheid en begrip,
Hoor ons as ons U om vrede vra,
Seen ons in Afrika,
Kinders van Afrika.
Seen ons Here God, seen Afrika,
Neem dan nou die boosheid van ons weg,
Maak ons van ons sonde ewig vry,
Seen ons in Afrika,
Kinders van Afrika.

Dan, liewe H, is daar ’n ander vraag wat ek ook deesdae vra. Een wat Vader ook hier vir my ’n pad laat loop het. Ek sit dit ook hier vir jou aan.

Die vraag is onlangs gevra oor hoekom van die ou apartheidstryders, veral die wit stryders nie meer in Suid-Afrika woon nie. Hoekom het hulle landuit getrek as hulle dan nou gekry het waarvoor hulle gesoek het. Ek weet nie hoekom hulle verkies om in ‘n ander land te bly behalwe dat ook hulle dalk hul lewens liewer het as die saak waarvoor hulle baklei het.
Is dit nie die mens se instink om te bly lewe nie? Kyk na die baba wat vir dae in ‘n afvoerpyp in Sydney was, hy het verbete vasgeklou aan die lewe. Kyk na die mense wat vir dae lank in die rommel na aardbewings klou aan die hoop dat iemand sal kom.

Hoekom wil ons, wie uit Suid-Afrika weg is dan hierdie oud stryders ‘n basiese menslike instink ontneem?

Ons moet ook nie vergeet dat hul baklei het teen Apartheid. Hulle het opgestaan vir die gelyke behandeling van  alle mense. Hulle het opgestaan dat een groep mense kon deel hê aan die besluite wat namens hulle gemaak word. Hulle het opgestaan teen iets wat verkeerd was. Deur daardie opstaan het hulle nie gesê hulle stem vir die wanorde van vandag nie. Hulle het geglo dat almal die geleentheid moes hê om te kan kies. Soos ek, soos jy.

In Suid-Afrika is dit tans ‘n number game. Vier en veertig plus miljoen van een groepering en vier of bietjie meer of bietjie minder miljoen van ’n ander groepering. Wat is die kans dat dit een van die vier en veertig plus miljoen kan wees wat jou skade berokken? Tog is die kans ewe groot dat dit een uit die vier en veertig miljoen sal wees wat jou te hulp sal snel.

Hoe moes die stryders kon voorsien dat trop mentaliteit die land so sou lamlê. Hoe moes hulle weet dat dinge so verkeerd sou loop? Hulle is juis nou van die stemme wat weer uitspreek teen die vergrype van die regering van die dag. Ten minste smeer hulle nie heuning om die bekke van die wie hulle vergryp aan die rykdom van die land nie.

Die feit is en bly staan, dat selfs met die wonderwerk van vooruitsig sou ek wou sê dat hulle steeds sou opstaan, want jy het mense nodig om op te staan teen dit wat verkeerd is. En dit is verkeerd om een mens as minder mens te sien net omdat hy anders is as jy.

Mag ek bieg? Ek het nog nooit gevoel dat ek weghardloop uit Suid-Afrika nie. Die een dag wat ek wel soos ’n verraaier gevoel het, gevoel het dat ek iemand in die rug steek, is die dag toe ek by ’n gedenkteken staan en ek sien hoe die Aussies as deel van die Common Wealth, en gevolglik deel van die Britte met die Anglo Boere Oorlog, hul deelname aan die oorlog gedenk. Daardie dag het ek ’n hartseer diep binne-in my voel vasslaan, om te dink dat hierdie ouens op die bodem van Afrika teen ‘my’ mense gaan baklei het, hul gierigheid daar wou gaan uitleef het. Toe het ek ’n stukkie van ons vs hulle gevoel. En ek moes vir myself en my kinders sê dat dit dinge van gister was, dat die foute van hierdie mense se voorvaders ek nie aan die mense in vandag se tyd sou toereken nie.

Sjoe, hier het jy omtrent nou ’n mondvol gekry. Ek hoop dat hierdie sin maak. Ek weet nie of dit jou anders laat dink oor die volksverraaier ding nie. Behalwe dat jy nie een is nie. Jy is ’n mens wat buite die grense van jou ruimte begin dink het, en begin dink het dat daar iets anders is daar buite, dalk iets beters, maar meestal iets anders. En jy het die tree van geloof gegee, ’n tree wat verklaar het dat waar jy ook al gaan, solank jou God saam jou is, jy ’n bende kan stormloop en oor ’n muur kan spring.

Groetnis

Marlize

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s