Familie moles

Paul gaan sit stadig in die hoek van sy geliefde koffiewinkel. Die klanke van die koffiemasjiene en die reuke maak hom altyd rustig, asof dit sy siel lawe. Hier kan hy in rus en vrede sit wanneer Bettie besig is met haar inkopies.
Sy heupe neuk nou al ’n ruk lank en as hy eers sit, dan sit hy. Hy vou sy hande biddend oor die knop van die kierie onder sy ken en begin mense te kyk. Hy het ’n goeie uitsig vanuit die hoek, ietwat verskans, maar die venster gee hom ’n goeie blik op die winkelsentrum se besigste gang. Die mense maal oor middagete haastig by die winkels in en uit. Hy sien die vrou by die winkel inkom, en gee aanvanklik nie veel aandag nie, tot sy doelgerig op hom afstap. Hoekom sou die vrou nou so reg op hom afstap, asof sy hom ken? Hy wil omkyk, maar sy staan reeds voor hom.
“Hallo, Paul. Lekker om jou weer te sien.”
Paul staan beleefd op. Sy heup klap met die opstaanslag. Hy probeer onthou wie die vrou is. Sy wil, wil bekend voorkom, maar die naam wat by die gesig moet pas wil net nie uit die argiewe kom nie.
“Eh, goeiemôre.” Sal hy nou maar handskud of nie? Die vrou beweeg in en soen hom vol op die mond. Voor hy kan dink vee hy oor sy mond. Goeiste, hy moet die vrou goed ken as sy hom sommer so in die openbaar soen, dink hy. Nou moet Bettie maar net aanhou shop. Hy gooi benoud ’n ogie in die rigting van die Milady’s wat oorkant die koffiewinkeltjie is, maar sien net die bostuklose mannekyne wat die winkelassistent besig is om aan te trek. Die vrou gaan sit en trek haar stoel tot bykans langs hom. Hy voel ongemaklik. Wie is die vrou tog?
Die Smitte, eienaars van die winkel, is saam hom in die kerk, en hy probeer kyk of hulle naby is. Hoe gaan hy hierdie aan hulle verduidelik? Ina Smit is juis die nuusdraer by die selgroep! Miskien moet hy die blinder voor die venster ongesiens laat sak?
Een van die kelnerinne kom hoor of hulle al wil bestel. Die vrou skud haar kop.
“Ek gaan nie lank bly nie.” Dan kyk sy na Paul.
“Hoe gaan dit met jou? En die rose?”
Die vrou moes dan al by hulle aan huis gewees het, niemand kan van die straat af sy skourose sien nie.
Hy kou-kou onseker aan sy onderlip, “Wel … e … dit gaan goed met hulle, dankie.” Hy hou aan vryf oor die knopkiere en vang hom dat hy wens hy kan ’n antwoord uit die dooie ding toor.
“Gaan dit goed met Bettie? Ek het haar lanklaas gesien. En die nuwe kleinkind? Dis mos ’n meisie. Jy moet in jou noppies wees!” Sy klap hom liggies op die bo-been. Hy skrik en knyp die kierie vaster.
Liewe hemel tog! Wie is die vrou? Hy gaan nie lank hierdie ding kan volhou nie. Hy kyk rond en begin hoop dat Bettie tog nou maar moet kom. Hy klou aan die kierie, hou dit as skeidingsmuur tussen hulle en glimlag beleefd, “Ja, ja. Alles goed.”
“Ek sal jou nie langer ophou nie. Geniet jou dag.” Sy gee hom wragtie ’n drukkie en staan op. Uit ordentlikheid staan Paul weer op en trek sy asem hoorbaar in toe sy heup weer klap. Sy waai vir ’n man wat buite die winkel staan en stap hom tegemoet. Dit is toe hy die man buite die venster sien en die hom met ’n wuif groet dat die liggie van herinnering uiteindelik aangaan.
Paul gaan sit weer stadig met ’n swaar gemoed. Die bekende reuke doen niks vir sy siel nie. Hy is sekerlik besig om Alzheimers te kry – as hy nie eers sy skoonsuster kon herken nie!

2 thoughts on “Familie moles

  1. afr bo! lees my blog ook en kommentaar asb…..ek skryf in afr, gedigte, briewe en sommer ne goeters….ek is nuut en soek kommentaar asb….dankie en soet wees – skryfgoed

    Like

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s