‘n Bigamis word uitgevang

Ben sit gemaklik agteroor in die rusbank en lig die KWV vyf jaar oud na sy lippe. Elsa vang haarself vir ’n oomblik dat sy selfversekerde houding haar ietwat aan ’n ‘baas van die plaas’ herinner. Sy skud haar kop liggies, asof sy die gedagte wil wegskud en sak self bietjie meer in die gemakstoel weg. Die vuur knetter gesellig in die hoek van die vertrek en die negentiende putjie begin besig te raak. Elke nou en dan knik Ben in die rigting van ’n bekende.
Die kelner met die kraakvars hemp kom staan langs Ben om hul bestelling te neen en haar wynglas vol te maak. Hy sit die bottel so neer dat die naam na haar wys en sy lees hardop, “’Graceland, diep pers, pepers, moerbeie en subtiele geure van vanilla.

“Ben, dink jy dit is hoe genade proe?” Sy kyk op na hom en vang hom waar hy weer sy glas in herkenning van iemand lig. Sy draai om, maar sien net ’n blondine wat ’n kelner nader wink.

“Ek weet nie, my lam, maar ek weet dat genade soos jy moet lyk op hierdie oomblik. Jy lyk verruklik in jou pers trui. Dit laat jou oë soos ’n kwaai kat s’n gloei.” Hy knipoog vir haar en leun vorentoe om stadig en sensueel oor haar pols te streel.

“Verskoon my,” hy lig sy glas, “ek gaan net ’n top up bestel.”

Elsa kruis haar bene gemaklik en neem vir ’n oomblik die ou goud stoffeersel en donker swaar houtwerk in. Dit is bietjie oordoen vir die sport van golf sou sy sê, maar sy geniet die luuksheid op hul eerste huweliksherdenking. Sy hou met groeiende genot ‘n man se toenemende frustrasie dop terwyl die gat wat hy onder die bal uitkolwe groter word.

Sy lig haar hand om ’n sluk te neem toe die blondine, wat sy uit die hoek van haar oog raakgesien het, haar stamp terwyl sy verby haar skuur. Elsa kyk gegriefd in die rigting waarheen sy loop en vang die presiese oomblik wat Ben iets na die meisie oor die toonbank skuif. Haar winkbroue skiet op en sy neem ’n sluk van die wyn om die bitter smaak in haar mond weg te spoel.
Met dié draai Ben om en stap terug na haar met daardie selfversekerde ‘swagger’ van hom. Sy glimlag laat alle gedagtes verdwyn. Sy besef net weer dat sy haar kan verkyk aan haar man se gesig wat na haar mening, kompleet soos ’n Griekse god moet lyk. Sy lig haar glas liggies in sy rigting en hy beantwoord die ‘salut’, maar sy glimlag verstar en sy hand word stokstyf in die lig. Sy snak na haar asem toe die koue wind haar van agter tref, toe iemand die deur skielik oopmaak.

Elsa draai om. Die vrou wat by die deur ingekom het, lyk woedend en haar lang hare word deur die ysige wind soos Medusa se slange lewendig gewaai.  Elsa kyk weer na Ben, wat steeds verstar staan met sy glas brandewyn in die hand. Sy draai terug na die vrou in die oop deur, maar sy staan nou reg voor haar, met die glas uit Ben se hand en skiet die goue vloeistof uit in Elsa se gesig.

“So dis hoe ’n vrou lyk wat ’n ander vrou se man steel,” sis sy, “skaam jy jou nie om so oop en bloot met ’n getroude man te sit nie? ”

Elsa bly verdwaas sit en sukkel om tot verhaal te kom. Sy probeer na die vrou kyk, maar haar oë brand en traan gelyk van die alkohol wat oor haar gesig drup. Haar kop ruk na Ben toe sy hoor hoe die vrou met hom praat.

“En jy… jy… jou…bliksem! Hoe durf jy? Op ons huweliksherdenking van alle flippen dae!”

“Lulu, stadig nou, kalmeer nou…”

Elsa kyk verdwaas na haar man. Ken hy dan die vrou?

“Ben, ken jy die vrou?” Elsa draai bewend na Lulu, sy is nie gemaak vir hierdie soort ding nie, maar van êrens is dit of die adrenalien inskop soos wanneer sy teen bergwande hang, sy besef dat sy nie kan vlug nie, hier moet sy haar man staan,

“Ekskuus tog, maar wie dink jy is jy? Wie gee jou die reg om sommer net hier in te storm, en hierdie wilde aantygings te kom maak? Hierdie is my man, vandag is óns eerste huweliksherdenking, en jy is duidelik…” Haar woorde droog op toe Lulu haar hand in haar handsak steek, “Hemel,’ dink sy, ‘die vrou gaan ons doodskiet!’ Sy kyk pleitend na Ben, sal die man haar ten minste probeer beskerm. Hy sit egter wasbleek in die stoel en staar na hulle.

“Kyk vir jouself,” Lulu smyt haar groen ID boekie en huweliksertifikaat voor haar neer, “toe, kyk vir jouself wie is sy vrou!”

Elsa neem die ID Boekie en die sertifikaat, met bewende hande. Dit is doodstil rondom hulle en sy kan duidelik die klingel van die glase van die kroegtoonbank af hoor. Sy kan sien hoe die bladsye ruk in ritme met haar hart se klop. Die ID boekie wys Lulu as Lulu le Roux, maar dit kan toeval wees, dink sy, daar is tog baie Le Roux’s daar buite. Dit is die huweliksertifikaat, wat net soos hare lyk wat sy agter in haar ID boekie hou, wat haar na haar asem laat snak. Lulu Strydom, getroud op 7 Junie 2009, met Ben le Roux, met dieselfde ID nommer as haar Ben, in Bloemfontein.

“Maar Ben,” sy kyk op na haar man en dan na Lulu wat nou op ’n stoel skuins langs haar sit, asof die wind ook uit haar seile is, “hierdie papier sê jy is met hierdie vrou getroud. Dit kan mos nie wees nie, kan dit? Ben…Ben?”

Die bloed suis in haar ore, en sy kom agter dat sy bewe. Sy kyk na Lulu en sien dat sy ook sit bewe. Altwee van hulle kyk na Ben, asof hulle wag dat hy soos Jakob van ouds tussen Ragel en Lea moet kies, maar sy weet nie of sy, sy keuse wil wees nie. Sy kyk verby Ben, asof sy redding soek by die mense wat na hulle staar, en sien dan die blondine wat veragtend na Ben kyk en ’n kaartjie opskeur.

“Elsa, my lam, ek kan verduidelik,” kry hy sy stem terug. Lulu trek haar asem hoorbaar in. Elsa ken sy woordvernuf, sy weet sy staan nie ’n kans nie. Sy hou haar hand op, “Nee. Nee, nie nou nie. Ek dink nie ek sal ooit gereed wees vir jou verduideliking nie.” Sy draai na Lulu, sy lek haar lippe af en ril liggies, sy het nog nooit van brandewyn se smaak of reuk gehou nie, “Ek is so jammer, ek sweer ek het nie geweet nie. Ek sou nooit… nooit in die afgelope vier jaar het ek die vaagste benul gehad nie.”

2 thoughts on “‘n Bigamis word uitgevang

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s