Om te kan erf (Toeka tokkel se onderwerp van die dag)

Ek sal nooit vergeet hoe ek die dag van my pa se dood by die slaapkamer ingeloop het waar hy nog net daardie oggend saam my ma bybelstudie gedoen het oor daardie stuk in Samuel wat sê dat daar net een tree tussen die lewe en die dood is. Daar op sy bedkasse het sy goueraam bril gelê. Daar gelê asof die draer nou nou weer dit gaan kom opsit wanneer hy uit die swembad uitklim, of van sy fiets afklim. Toe tref dit my, die klaargeit in die situasie.

Ek het nie die bril gevat nie.

Ek het niks van my pa gevat nie. Dit het nie reg gevoel nie. Om te vra vir ’n erfporsie terwyl die ander helfte van hom stukkend in die huis gesit het. Ek sou graag sy leartherman wou hê. Hy was ontroerd hartseer die dag toe ek dit vir hom koop. Hy het nie verwag dat ek sy skertsery ernstig sou opneem en vir hom een gaan kry nie.

Of miskien sou ek sy vulpen wou hê. Ons twee was die enigstes wat daarmee geskryf het in die gesin. Ek het my handtekening geoefen dat dit soos syne lyk met my eerste vulpen.

Ek het wel, langs die pad waar hy doodgery is, ’n stuk van sy valhelm gaan optel. ’n Klein stukkie plastiek met sy naam op. Die stukkie lê êrens in ’n laai.

So raak dit met erfstukke – hulle word êrens weggebêre, tensy dit ’n gebruiksartikel is, soos die blokkieshemp wat my man van my pa se kas oorgeneem het to emy ma sy kas begin uitpak het, meer as tien jaar gelede, en wat steeds gedra word, sonder dat die kraag skif, en sonder dat dit opgewas raak. Elke keer wanneer ek die hemp stryk dan vryf ek saggies oor die hempsmou en ek vertel vir hom dat ons verlang.

Ek het geërf by my pa. Ek het baie erfstukke wat ek in die kamers van my herinneringe rond dra. ’n Leeftyd se onthou wat meer is as die dinge wat ek vashou. Die grootste erfstuk wat my pa my wel gegee het, was ’n geloof in God. ’n Diep bewuswording van die absolute genade wat ons het om daagliks wakker te word. Ek hoop dat my kinders dit eendag onder hulle erfstukke tel.

3 thoughts on “Om te kan erf (Toeka tokkel se onderwerp van die dag)

  1. Baie dankie dat jy jou erfstukke gedeel het. Dit is en bly waardevol al is dit hoe klein omdat die waarde lê in die gevoel en nie die werklike item nie(bietjie lomp gestel maar ek dink jy verstaan wat ek bedoel) Dankie ook dat jy na Toeka-Tokkel ge-pieng het!

    Like

  2. Pingback: Toeka- Tokkel 16: INRY-TEATER | scrapydotwo

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s