Ek is nie hoogmoedig nie, maar…

Wanneer het ons so maklik begin aanstoot neem? Soos onlangs toe iemand my uit die bloute vra of daar werk vir haar is in Australië en ek vra vir wie sy haar alie by die werk gewip het. Sjoe, ontketen ek toe nou ’n stortvloed van woede oor my. (Dit nadat ek vir jare geduldig gelees het en raad gegee het oor haar moeilike werk situasie en altyd simpatiek probeer luister het na die absolute hel waarin sy haar by die werk bevind.) Die flipside van hierdie coin is egter dan aanstoot neem deur ’n belediging voorafgegaan word. Nou is die vraag, het ek, deur te vra vir wie sy haar alie gewip het, haar beledig? Het ek haar soos ’n kind behandel? Duidelik het dit vir haar so gevoel. Die gesprek wat daarna op Whatsup (Leer nou jou les uit my les, Whatsup en FB is nie die regte plek om mekaar aan te vat nie. Die letter van ’n rekenaar kan nie jou oë vir die ander mens wys nie.) plaasgevind het, het haar briesend gelaat, vir my ontsteld. Ek is steeds ontsteld, en soos jul kan agterkom, pla die ding my steeds.

Nou doen ek wat ek altyd doen wanneer ek so bietjie wroeg, ek gryp my woordeboeke nader, en die Bybel, sodat ek kan sin maak van die deurmekaargeit wat my gedagtes besig hou.

So begin mens by die begin, by die beledig storie. Om iemand te beledig, volgens die HAT is om iemand in sy eer te krenk en sy goeie naam aan te tas. Dit beteken ook om iemand seer te maak, of iets onaagenaam aan te doen.

Wat beteken dit om aanstoot te neem? Dit is om iemand se optrede as ’n kwetsing te beskou.

In dieselfde trant moet mens ook gaan kyk na die woord liggeraak. Dit beteken om gou beledig te voel of selfs prikkelbaar te wees.

Nou gaan ek bietjie terug in die verlede. ’n Paar jaar gelede, en ook so onlangs as in Februarie hierdie jaar het ek verneem dat daar stories van my vertel word. Dit het my diep seergemaak, totdat die Here vir my kom herinner het, dat die mate waarin die stories seermaak en my in my eer krenk, is die mate wat Hy nog die eie ek uit myself moet verwyder.

En hier kom ek nou by die ding waaroor ek eintlik wil praat. Die wortel van hierdie hele kabaal waarin ek myself nou bevind. Trots. Die eie ek. Die ego mens. Die vleiskas. Die bliksem.

Wat weer ’n ander woord-soektog op tog sit. Want, trots kan tog so edel ding wees. Weer trek ek die HAT nader en dit vertel my dat ‘trots’ die gevoel is dat ’n mens beter, belangriker as ander is – meestal in ’n gunstiger sin gebruik as hoogmoed. Dit is ook ’n bewussyn van jou eie waarde, fierheid en selfgevoel. Jy kan ook trots wees op iemand anders.

Hoogmoedig wees is nou weer ’n besonder sterk, maar ongeregverdigde gevoel van eiewaarde; te hoë dunk van jouself. Jy kan ook erg ingenome, self voldaan en trots wees.

Nou weet ek ook dat mens hoogmoedig nederig kan wees, amper soos die fariseër wat daar voor die muur gaan staan en in plaas van belydenis doen het, erken het dat hy nou nie die beste is nie, maar dat hy darem wragtig nie so sleg soos die tollenaar langs hom was nie, en dit tel darem tog vir iets, doen dit nie?

Hier is my interpretasie van die hele ding oor trots en hoogmoed. Jy mag maar trots wees op wat ander behaal, maar moet asseblief tog nie jou eiewaarde aan dit begin koppel nie. Jou kind mag dalk die beste klavierspeler die kant van die Ewenaar wees, maar hy speel die klavier, nie jy nie, en jy kan nie te koop loop met sy prestasies asof dit joune is nie. Wees baie versigtig hiervoor, die balans is so dun soos garing.

Die oomblik egter wat jy trots raak, en jouself begin aanstel, dan soek jy vir moeilikheid.

“Maar ek stel my nie aan nie,” sê jy.

“Ek dink glad nie ek is beter as ander nie, maar…”
Daardie ‘maar’ is die probleem, want dit vee die hele sin voor dit uit.

Hoogmoed is daardie onderneming om wragtig nie weer ’n ‘whatsup’ te stuur en uit te vind hoe dit gaan nie. Dit is die onderneming wat sê dat jy liewer dood sal neerslaan voordat jy omverskoning vra, want jy het wrintiewaar nie bedoel om haar te beledig nie. Trots is daardie vraag, “Wie de hel dink hy is hy?”

En so staan ek skaam vannaand, want ek dink baie maal dat ek nie meer trots in my het nie, maar die ding verskans hom so goed dat hy my amper laat glo dat ek die een is wat eintlik beledig is. Dat my eer gekrenk is. Dan kom die herinnering weer, ‘In so mate as wat jy nog in jou binneste seergemaak voel, soveel moet Ek nog tot verwesenliking in jou kom.’ En eerlikwaar, ek wil dit nie hoor nie. Ek is nie lus om die minste te wees en te sê, “Askies,” nie. Ek het nie die krag daarvoor nie. Veral omdat ek feitlik dadelik omverskoning gevra het. Moet ek dan nou weer vra?

Nou gaan daar ’n koor stemme opgaan wat sê dat daar seisoene is en dat hierdie verhouding se seisoen dalk verby is. Maar op so trant? Op so manier? Iemand vir wie ek werklik lief is? Het Jesus nie juis gesterf omdat Hy liefgehad het tot die dood toe nie?

Vir my is die antwoord dat ek weer omverskoning moet vra. Sonder om iets terug te verwag. Sonder om te dink dinge moet wees soos wat dit was. Dit kan nie weer nie. Al wat ek kan doen is om gehoorsaam te wees, en Hom dan te vra wat Hy verder met hierdie hele spul wil doen.

6 thoughts on “Ek is nie hoogmoedig nie, maar…

  1. vandat ek die opskrif van hierdie artikel gesien het, wou ek dit al lees. Uiteindelik gedoen en het dit baie geniet. Die boodskap is pragtig en spreek tot mens.

    Like

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s