Is ek nou groot?

As kind het ek en my sussie bykans die huis afgebrand toe ons die tuinvullis in die agterjaart aand die brand gesteek het en ons skade met Coke botteltjies vol water probeer beperk het. Die skade was darem nie te erg nie, en nadat my dad die brand met ’n hose pipe geblus het, het ons gatte gebrand.

Ek het eers op nege jaar leer fietsry. My ma se fiets was die proefkonyn en die grote voorerf van Drongo straat 36 die toetsgronde. Later in my tiener jare en tot kort na my pa se dood, het ek kompeterend, selfs provinsiaal fietsgery.

Ons het busgery, soms. Die parke was mooi, toe. Die biblioteek het op wiele na ons toe gekom. En almal was lid van die NG Kerk. As jy nie was nie, het ons jou terstond tot deel van ’n sekte geban. Al was jy AGS, want die tale pratery ding was net te vreemd. En het ons bang gemaak. Ook die agteroorvallery.

Een nag, het ’n man by ons huis probeer inbreek. Hy het gedink ons slaap. My pa het nie, en hy was ’n bruin belt in karate en het ook jare lank geboks. Daar is nie weer by ons ingebreek nie.

My ma se bediende het ’n telefoon in haar kamer gehad, sodat my ma nie op haar hoef te geskree het nie, en ons nie in die kouete tot by haar kamer hoef te geloop het om haar te roep om in die aand in te kom om die skottelgoed te kom was nie. Haar dogtertjie se naam was Mabu, en vakansies mag sy by haar ma kom kuier het. Dan het ek die hele vakansie ’n maatjie gehad, wat my nie verstaan het nie, maar baie lekker saam my gespeel het.

My pa het ’n mynkar gery. ’n Hemelblou Peugeot stasie wa, en ek en my sussie het elk ons eie sitplek gehad. Dit was lekker tye. Ons kon elke een op ons eie bank lê en slaap tot ons by die vakansie plek was.

Ons bure het die mooiste kinders gehad. ’n Lang blondekop dogter, Belinda, aan die linkerkant, en ’n pragtige voshaarnooi, Sonja aan die regterkant. Mooi boeties ook. Ons het deur die draad gekuier.

Toe fire hulle my pa. Ek kan nie onthou hoekom nie. Dit was voor die dae van CCMA en unies en wit stakers en dinge. En ons trek. Weg van die plek waar die mynkapteine bly en ons gaan na die buurt aan die verkeerde kant van die spoor, met die mynhuis en die baksteenmuur wat oorvloei van sigaretstompies en teertaai privets wat nie hoog genoeg is om my ma se skaamkry weg te steek nie. ’n Mynhuis met houtvloere waarop ek my boeksak laat gly het en ek agterna ingehardloop/gly het. Houtvloere wat geblink het, elke dag.

My ouers het later die huis gekoop. Daar het ek grootgeword. Geleer vry op sestien. Matriek geskryf. Universiteit toe gegaan, en op my huweliksdag wakker geword. Vir my pa bye gesê drie dae voor sy dood. Gesien hoe my ma weer, jare later kan leer lief kry. Op haar tweede huweliksdag daar wakker geword. My kind heen gevat toe moederskap in die begin vir my net te moeilik was. Nassau straat 15.

En toe is dit verby. Ek trek land uit… kontinent af…

En nou liewe leser, vertel jy vir my. Is dit hoe dit klink om groot te word? Want, groot word klink tog na so ’n volwasse ding om te doen? So ’n grootmens ding. Ek kyk na ander volwassenes in hulle karre op die snel weë, en hulle strak gesigte. Hoewel ek weet dat ek hulle weerspieël, voel ek nie so nie. Ek voel nog kind. Asof daar ’n stuk is wat makeer. Asof ek speel-speel mamma speel, en speel-speel vrou speel. Asof my pa my nou-nou gaan roep en sê, “Marlisie, kom nou in, dit is bed toe gaan tyd.”

(Hierdie is deel van die Toeka-tokkel se weeklikse skryf stukke: (https://scrapydo2.wordpress.com/2015/06/04/toeka-tokkel-no-24-grootword/)

8 thoughts on “Is ek nou groot?

  1. Weet jy, daardie vraag wat jy vra of jy nou groot is het my nou aan die dink gesit. Dis so waar dat mens altyd gedeeltelik kind bly of klein bly. Veral vir jou ouers bly jy nog kind. Ek voel met jou, klink amper soos my vroeë jare ook. Ons het egter landuit getrek toe my pa nie werk gehad het na tweede wêreld oorlog. Hy het toe van vooraf begin werk vir 25 volgehou. Met my het ek my man verloor en soort van bankrot gegaan. Nou is ek op my oudag geheel en al in vreemde. Is dit nou tyd dat ek kan sê ek is nou groot? Nee wat daar is nog genoeg tyd om verder te groei! Baie dankie vir jou deelname aan Toeka-Tokkel 😀

    Liked by 1 person

  2. Pingback: Toeka-Tokkel no 25: Omgewing | I scrap 2

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s