Ek hou nie van oud word nie

Wie is dood wonder ek, toe ek nou die dag myself so in die spieël betrag. My gesig lyk klipsteen hard met sulke diep groewe om die mond. Die ken lyk langer as gewoonlik en die lippe, wat gewoonlik sensueel opwaarts trek, dreig al hoe meer afwaarts. Ek lyk kompleet soos iemand in diepe rou. Hartseer verby. Dankie Vader, saam die hartseer kyk is daar nie nog ’n kwakkie onder die kennebak ook nog nie! Wat sal ek doen as ek die oggend moet wakker word en die lelletjie hang hier soos ’n hennetjie wat gereed maak om aan’t kloek te gaan?

Nee, niemand is dood nie, behalwe die jeugdige lyf van nou die dag, wil dit vir my voel. Ek kan my alie skop dat ek nie beter na hierdie lyf gekyk het nie en daardie ondernemings van, ‘ek word wragtag nooit weer vet nie’ nie gestand gedoen het nie. En ja, ek rou, want ek word oud, en ek wil nie, omdat ek moet erken, so ruiterlik moet erken, dat ek sterflik is, en dat my christenskap nog nie so sterk is dat ek uitsien na die dag wat ek dood gaan nie. My oupa het altyd gesê dat hy nie bang is vir die dood nie, maar dat die doodgaan proses hom met angs vervul. Ek verstaan dit nou.

Dan gaan ek maar gym toe. Miskien kan ek ’n stukkie onsterflikheid daar tussen al die spierpaleise optel, en dalk kan ek my gat gaan afoefen, soos ek gehoor het mense al sê. Hoe kry hulle dit reg? Ek oefen, maar al wat my boude doen, is om hande te klap wanneer ek spring en land. Met die land slag moet ek seker maak ek land nie te hard nie, want dan piepie ek my so bietjies-bietjies nat ook. Nou moet ek nog gaan staan en pelvic floor exercises doen wanneer niemand kan sien ek doen dit nie.

Deesdae neuk my knieg ook nog as ek op staan, en my groot toon kraak van die inflammasie, wat eintlik maar net ’n ghrênd woord is vir gout. In die vroeë tye het hulle dit die rykman-siekte genoem. Ek het altyd gedink dit is alkoholiste wat dit kry. Ek weet nou nie van ryk wees nie, dit is seker oop vir interpretasie, en nee, ek suip nie, en het nog ooit nie, maar ek eet soms brood en swiets, en gis en suiker saam gee ’n neukspul af met my voete saam. My rug pyn ook. En my vingerlitte. En as ek my skouer op ’n snaakse manier draai dan voel dit of die ding uit sy potjie uitskeur.

My wenkbroue begin lang hare kry. Regtig, lang hare, wat so ’n befoeterde krul kry hier halfpad deur. En ek moet al hoe meer my epilady gebruik vir die hare op my ken. Ja, ek het ’n baard. Ek het ’n snor ook, maar not te tiekie gaan ek dit epilady, ek ignoreer dit maar, tot die vrou by wie ek my naels doen, my nader trek en wax dat die trane sommer so vanself kom. Ja-ja, ek weet ek kan gaan vir laserbehandeling, maar dit kos geld en werk net op swart hare, en my baard begin grys word. My winkbroue ook. Ek aard darem so bietjie na my pa wat nie werklik grys was, behalwe in sy baard, die dag toe hy dood is.

My maag steek my borste verby. Nadat twee kinders vir gesamentlik vier jaar my borste leeg gedrink het (lees – langer gemaak het) is hulle nie meer punt in die wind nie, en dreig ek altoos om ’n paar maande swanger te lyk. My ouderdom verraai egter dat swangerskap nie sommer ’n opsie gaan wees nie, gevolglik weet die mense ek is vet.

Goddank, is ek ’n fikse vet. As ek nou nog ’n onfikse vet was…

Wanneer ek in die spieël kyk dan sien ek hoe die vel oor my skouer- en nek area die voorkoms van ligte kreukel papier kry. Daar is wit kolletjies oor my arms. Ek hou die moesies op my lyf met arendsoë dop.

Ek vra onwillekeurig die vraag, “Wanneer het hierdie ding gebeur? Hierdie oud word ding?”

My geliefde dra dieselfde tekens. Nee, sy boude klap nie hande as hy spring nie. Hy spring nie veel nie. Hy het wel sestien kilogram die afgelope jaar en ’n half afgeval. Wat my op my beurt weer laat skuldig voel, want voer ek nie die man nie? Mense wat ons nie ken nie, gaan sweerlik kan sê dat ek die arme man se kos alles verorber. Ek kom juis agter dat ek eet met ’n spoed wat die eerste span sal haal. Ek dink dit kom nog van die tyd toe die kinders babas was en ek moes sluk voor die een weer aan die skreeu gegaan het. Nee, ek eet nie my man se kos nie.

Hy word grys. Blonde hare kan ook grys word en sy borskas is die kleur van liggrys staal. Kry mens liggrys staal? En hy is onfiks. ’n Blêddie maer onfiks. Hy weeg minder as wat hy geweeg het in matriek. Wanneer hy my so kyk en vir my sê, “Kyk hoe ver te groot is hierdie broek,” dan is ek lus en gooi hom met my rekenaar of iets.

En tussendeur is ek so half verskrik. Want, ek is nou middeljarig. Ek was letterlik jare laas by ’n troue, maar dankie Vader tog, nog nie by begrafnisse nie. Ek is nou so tussen in die nuwe beginne en die dood ganerye. Die bewustheid van die genade van nuwe dae staan voorop in my gemoed, en tog mors ek my tyd om voor die skerm te sit en facebook te kyk. Asof ek in die lewe van ander ’n sprankie hoop probeer kry dat daar … wel… hoop is. Hulle lyk nie of hulle ouer word nie, en ek kan nie hulle lywe sien nie, want hulle laai net selfies van hulle gesiggies.

Ek wonder of my geliefde my nog sien. Die meisie op wie hy verlief geraak het. Ek wonder of hy ooit wonder of ’n jonger model nie meer wip in sy… stap sou sit nie? Ek wonder of hy dink ek is ’n catch? Ek wens ek kon nog dink ek is een…

Gaan daar ooit ’n tyd kom wat ek nie in een of ander innerlike stryd is nie? Sal daar ooit ’n tyd kom wat ek nie wonder oor al die ‘wat asse’ nie?

Is ek nie nou al te oud om oor hierdie goed te worry nie? As ek nou, op een-en-veertig, steeds nie vrede het met hierdie ding nie, myself konstant meet teen ander, die heeltyd voel ek is te selfsugtig, ek skiet te kort, en doen nie genoeg, lyk nie goed genoeg, maer genoeg, gesond genoeg… Wanneer, in Godsnaam, WANNEER gaan dit dan ooit einde kry?

Want, liewe Marlize, jy dink hopeloos te veel aan jouself. Daar is mense met te min kos, te min klere, nie genoeg warmte nie, en jy… jy dink net aan jouself. Daar is ’n wêreld daar buite my girl, wat sukkel. En jy… jy hou jou kop besig met hierdie goed?

Dit is tyd om op te hou bekommer oor wat onkeerbaar is. Dit is tyd om die metamorfose aan te gryp en klaar te kry met die soeke na perfeksie en skoonheid en whatever! Die hotflushes moet nog kom.

Het jy dalk raad, vriendin wie hier sit en lees? Kan jy jou voete verby jou maag sien as jy afkyk? Is daar niks aan jou lyf wat pyn nie? Is daar niks waarvoor jy bang is nie? Onredelik, onlogies bang is nie? Vrese en skaamkry goeters wat jy in jou hart hou en niemand van vertel nie? Vertel my, hoe kry jy dit reg? Ek het so gehoop dat ek al my geite teen hierdie tyd klaar gewerk mee sou hê, maar die goed wil nie wyk nie. Net as ek dink ek het die een ding nou begrawe dan klim die ander geraamte uit die kas.

Nou ja dan. Noudat die klip uit my gemoed is, en hier op papier is, lyk dit maar bra laf ne? Nie minder werklik nie, maar ten minste lyk dit so bietjie snaakser as wat dit in my kop gelyk het. En wanneer ek nie meer vir myself kan lag nie, dan moet jy weet, die dood is voor my deur. Vir nou, giggel ek maar so half saam jou, want ten minste het ek nog nie ’n kwakkie nie. Jy sal my hoor die dag wanneer die kwakkie begin swaai, dan bind ek dit wragtig met cellotape vas!

11 thoughts on “Ek hou nie van oud word nie

  1. Jong ek is al n hele paar jare verby jou jare! Dis eintlik in n mate die ydelheid van die mens wat maak dat mens nie wil dit of dat nie. Mens moet nie te veel probeer om nie oud te lyk nie. Die frons maak jou net meer beplooid. Ek trek maar wyer klere en met moue aan om nie al die ou lelle te sien nie. Dan skielik sal jou kind wat nie meer n kind is jou hand vat en sê:”Kyk hoe verrimpeld en oud lyk Ma se hande.” Nie in n lelike manier nie maar heel liefdevol. Wat moet ek nou daarvan sê – dis die loop van die lewe. Jou liggaam is tog die tempel van God, maak nie saak oud of jonk nie.

    Like

    • Wanneer? Ek lees nou die dag iets van Monique Strydom, die vrou wat jare terug in die Fillipyne ontvoer is saal haar man, Callie. Sy sê toe dat wanneer mens so depressief begin voel, moet jy juis uitreik en vir ander mense iets begin doen.
      Ek dink dat die antwoord baie keer daarin lê, dat ons geleentheid moet soek om ander te dien. Die ding is egter dat dit weer ander kant toe oorhel en jy so ‘n gedienstige Martha word dat jy vergeet om te gaan sit by sy voete.
      Groetnis;)

      Like

  2. Ek hou ook nie van oud word nie. Op sommige vlakke voel ek (in my kop) nie ‘n dag ouer as 25 nie maar op ander het daar darem (genadiglik) ‘n bietjie meer wysheid met die jare gekom. Toe ons kinders was het ons gedink ons ouers was baie oud toe hulle in hulle veertigs was en nou dat ek self daar is voel ek nog so jonk!

    Like

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s