Wat is ‘n Huis sonder ‘n Moeder?

“Wat is ’n huis sonder ’n moeder?” vra die kruisstekie doilie of wat ook al jy het, teen die muur. Jy ken mos daardie vreeslike kitch goeters, met die blommetjies en die blaartjies en die vraag, tog so vreeslik vroomd, “Wat is ’n huis sonder ’n moeder?”

Weet jy, ek weet nie.

Want, so stuur my geliefde (in kursief gedruk, want ek hoop jy hoor die sarkasme in druppels wynrooi gif van my lippe afdrup) gister vir my ’n epos aan wat een of ander man wat dink hy weet van tyd organiseer, geskryf het. (Die skrywer is onder andere ’n ghostwriter – die man moet liewer maar ’n spook bly, want as ek hom in die hande moet kry!) Hy wil ander mans vertel hoe om jou tyd oor ’n naweek beter te spandeer. Een van die punte op sy lysie is onder andere dat jy jou gewone naweektakies sommer as ’n werkie in die week moet inpas.

Vra ek die man van my hart (ek sal die kursief maar agterwee laat hierdie keer, want hy is darem nou maar eenmaal my hart se punt) of hy nou eintlik vir my ’n verskuilde boodskap het dat ek regtig darem nou my gat in rat moet kry en meer moet doen die week.

“Ja,” seg die vreeslose, “dit sal help as jy so bietjie meer kan doen deur die week, dan hoef ons nie so te skarrel deur die naweek nie.”

Ek hang maar my kop in skaamte, want ek is mos nou maar seker een van daardie lui huisvrouens wat nie kans kry om klere te stryk, behalwe ses uur in die donkerte van die oggend, terwyl hy kaalbas onder die warm stort staan en opwarm vir die dag se aksie tussen ander mense nie. En ek kry nie elke dag kans om die vloere uit te vee met die besem nie, en om van afstof nie eens te praat nie, want ek sit mos maar net heeldag agter facebook, ne? En die een dag toe ek hom vra om wel bietjie toesig te hou oor die kinders en die skool werk toe doen hulle dit in ’n uur! En hy kry kans om huistakies te verrig! So wat is ’n huis sonder ’n moeder, vra ek jou nou?

So bly my ander helfte, wat nou so moet skarrel deur die naweek, vandag by die huis om van die huis af te werk.

En hierdie een mens, wat hulle die moeder van die huis noem, begin met haar sleurtakies. Ek kry die skottelgoed afgespoel en in die skottelgoedwasser. Tussendeur probeer ek die kinders aan die sit kry sodat hulle kan begin met die skoolwerk. Wiskunde is aan die beurt, sommer so vroeg in die oggend, en daar kom ek agter dat die knaap die optel somme wat hy die hele jaar nou al reg doen, nie meer kan doen nie, om nie eens te praat van die maalsomme nie! Daarom los ek waarmee ek besig is, en sit en verduidelik weer.

Maar, meneer het gister ’n nuwe fiets gekry en die somme moet sweerlik na ’n fiets se wiele lyk op daardie stuk papier, want maklike goed word nou skielike probleme van epidermiese porporsies.

Kleinman, wil natuurlik ook skoolwerk doen, en hy leer van die emu’s van Australië. ’n Prentjie word gesoek en moet ingekleur word. As mamma nie saamsit nie, dan word dit nie gedoen nie, nou sit mamma.

Êrens in die oggend word daar ontbyt geëet. Kleinman sê, “Wil nie hê nie, is bleh!” Ouboet wil liewer oats pap hê. Pappa, wag maar net om geroep te word om te kom aansit. Sy hande is mos rond, en hy kan nie die inisiatief neem om die opgewarmde vleis op die tafel in bakkies te kry nie.

So gaan ons aan. Intussentyd onthou die kleintjie dat hy vreeslik lus was vir kale chips en dat ek dit summier in die oond moet kry. En vir die volgende 45 minute kerm en teem hy vir chippies soos net ’n vierjarige dit kan doen, want hy soek dit nou!

Wetenskap werk met geologie en die Brownian beginsel. Weet jy wat is die Brownian beginsel. Ek weet nou, maar ek gaan jou nie sê nie, want jy kan dit gaan google, soos ek moes maak, en dit op you tube vir jou kinders wys. 🙂
Toe besluit meneer nege dat hy sy attitude gaan gooi met so ’n kleilat hou en hierdie ma stuur hom kamer toe vir sy eie veiligheid.

Intussentyd word die hoender gaar die lemoenpampoentjies prut en middagete kom. Ek is gaarder as die kos, maar dit is lekker en ons eet saam.

Vir almal se behoud gaan stap ons om die blok, terwyl die kinders hul nuwe fietse uittoets. Terug by die huis gaan slaap ek. Nou kan ek nie meer nie.

Vier uur gaan die een gym toe. Na gym gaan gee ons die boeke terug by die bib, kry pappa se pille, sodat die vet tog net nie meer in sy are aanpak nie, kry kos vir die hond en iets vir die aand. nadat ek aanvanklik beplan het vir butter chicken, laat weet liefie, nee wat ons eet sommer sop. “Watse sop?” vra ek.

“Nee, sommer uit ’n blik,” kom die goedbedoelende antwoord. Maar my liewe mens, ek koop nie blik sop nie. Die goed is wind. Dit is sout en wat ook al, maar ek koop dit nie. Nou moet ek die butter chicken planne verander, want hy wil sommer net sop hê. Hy klink kompleet soos my ma wat sê, sy eet sommer net ’n broodjie.

Kom by die huis, kinders wil gaan fietsry. Loop weer om die blok.

Kom weer by die huis. Begin kos maak. En hier onthou ek dat ons nog nie Afrikaans of Engels gedoen het vir die dag nie. Trek die man met die attitiude nader. Die wange word dikker. Die attitude word groter en die atmosfeer word taai. Ek draai my rug en sien dat hy besluit het om ’n streep te trek deur die paragraaf wat 23 adjectives bevat wat hy moet omkring. Hy het besluit dit is nie nodig om dit te weet nie. Vee die strepe uit. Verduidelik vir die hoeveelste keer wat ’n verdomde adjective is en ons gaan aan.

Deur dit alles, sit die man wat moet skarrel deur die naweek, op sy alie agter sy rekenaar en “lyk besig”. (Nie my woorde nie, maar syne!)

Stiptelik om 7:30 die aand stap ek by die huis uit gym toe. As ek nie oefen nie, word ek gek.

Wat is ’n huis sonder ’n moeder?

Ek weet nie. Want met ’n moeder voel dit vir my na ’n gekkespul!

Of dalk is ek ’n lui ma, wat sommer net sit en facebook die hele dag.

N.s.
Ek moet darem sê dat hy die kombuis aan die kant gemaak het terwyl ek gaan gym het, en toe ek terugkom, my laat weet het dat hy sy klere vir stryk reg gesit het vir more oggend. 🙂

10 thoughts on “Wat is ‘n Huis sonder ‘n Moeder?

    • Ag baie dankie 🙂 Dit is natuurlik baaaaaie erger as wat dit klink ne? 😉 Of is dit nou andersom? Nie naastenby so erg as wat dit klink nie? Some days are diamonds, some days are rocks…. En ek het altyd gedink, some days are diamonds, some days are coals…. 🙂

      Like

  1. Wel dis nou n regte egte beskrywing van n huis met n moeder. Klink nie of die vader vreeslik simpatie het met die moeder nie. Ek dink jul moet beide bietjie n rooster opstel en die werkies helfte helfte deel. (Makliker gesê as gedaan 😦 )

    Like

  2. So gaan dit maar party dae en ma’s verstaan dit beter as pa’s. Ek is oortuig daarvan dat sommige van die goed wat ons as ma’s doen eenvoudig “onsigbaar” is vir die res van die huishouding, totdat hulle die dag nie gedoen is nie. Intussen hardloop ek rond soos ‘n “road runner” voël om al daai “onsigbare” goed gedoen te kry! Sterkte met die tuisskool ook daarby!

    Like

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s