Middeljarige Martha se Storie

…eendag dan vertel ek vir jou ‘n storie, een wat alle kante toe hol, en dan, dan wanneer jy dink jy verstaan nie ding, gebeur dit wat nooit moes gebeur het nie…

Maar dis eendag, vir nou, het ek niks. Ek het net die moegheid in my blaai, die pyn in my knieë en my onthoue en vir nou bly dit my storie.

Die storie het begin in die middel, die begin was reeds verby en die einde was nog nie in sig nie, maar die middel het gewag om vertel te word…

Sy het voor haar rekenaar gesit en moes weer ‘n keer kyk na die foto wat getag is op Facebook. ‘Here, in die hemel,’ het sy gesug, ‘wanneer het dit gebeur?’ Daar het sy gestaan, in haar volle peervormige glorie, saam met drie ander vriendinne, maar al wat sy kon sien, was die breë, breë heupe.

‘Wie is die vrou op die foto?’ wou sy hardop vra. Maar sy het reeds die antwoord geken. Sy het die ‘tag decline’, opgestaan en voor die badkamerspieël gaan staan.

“Spieeltjie, spieëltjie, aan die wand, wie’s die mooiste in die land?”

“Beslis nie jy nie, o koningin, jy is oud, vet en oor die muur.”

Sy het die pienk tweezer gevat en ‘n halfgrys snorhaartjie uitgetrek.Vir ‘n oomblik kon sy die traan wegpraat as ‘n traan van pyn.

“Mammaaaaa…. ek ‘ n klaar poep en ‘n piepie,” het die stemmetjie uit die toilet haar teruggeroep. Sy het omgedraai en vinnig by die toilet ingespring.

“Was dit ‘n groot poep, ‘n klein poep, ‘n groot piepie of ‘n klein piepie?” Dit was hulle manier. Terwyl sy die kleinman gehelp het om sy boud af te vee het sy saam hom gegiggel oor die lawwe dinge, waaroor net ‘n ma en haar kleuter kan giggel.

‘Dankie Here vir nuwe dae en nuwe dinge,’ het sy gedink, haar jeremiade van ‘n paar oomblikke tevore vergete.

So begin die storie in die middel. Die een wat ek gesê het ek jou gaan vertel, so ‘n paar dae gelede. Die een wat ek die kant toe sou laat hol, en daardie kant toe sou vat, die een wat ek wou begin, maar my blad was moeg en my knie het geneuk.

Later het sy weer voor die rekenaar gaan sit, terwyl die boodskappe van bemoediging ingestroom het, om haar te probeer moed inpraat, dat sy tog nie moet worry oor haar oudwordende lyf en goeters nie. Hulle het haar vertel dat sy oulik is, ’n goeie vriendin is en mooi van binne is, maar die een stem…die een stem waarvoor sy gewag het, was stil.

Daar het ’n boodskap van ’n vriendin deurgekom. Een van daardie R U OK vragies en hul het aan’t praat geraak oor die grys hare en om statig oud te word. Sy het agtergekom dat dit een ding is wat sy glad nie wil doen nie. Statig oud word. Nee wat, sy wil spiky grys hare hê, en Demis Roussos Kaftans dra, met bangles wat klangel en ’n helse groot bril op. Sy wil rooi-rooi lippe rock en haar vingers moet blink ringe laat flits. Sy wil ’n ou mens met attitude wees, het sy gedink.

Sy het gehou van die speletjie; die waar sal jy wees in twintig jaar speletjie het haar laat dink aan die #Let it Go beweging waar die een ou tannie sê dat sy liewer ’n Don’t do lysie moes maak.

Wat sou sy doen as sy moes besluit wat sy nie sou doen nie, in plaas van ’n ‘te doen lysie’?

Sy het ’n blaai gevat en begin skryf:

My don’t do list

So het sy bly sit. Net met die opskriffie. Sy kon aan niks dink nie. Haar dae was in elkgeval vol van baie ‘om te doens’ wat sy nie gedoen het nie.

Sy het onmiddelik gedink aan die vrou met die pers rokkie by die lughawe. Sy was ’n ouerige dame, die gesig en die knieë het die ouderdom gewys, maar êrens het haar brein nie die boodskap gekry dat ’n vrou van haar ouderdom nie meer sulke kort rokkies dra nie. Dit was opvallend teen die statige lugwaardin pakkies.

Om nie te doen punt nommer een: Wanneer ek weer gebou is soos ’n pou gaan ek nie kort rokkies dra nie, ek gaan by die ouderdom hou, maar seker maak dat ek ’n statement maak wat sê, ‘Hierdie tannie kan jou gat skop!’

Sy het skalks geglimlag, haar kinders sou seker dink haar bene is ’n padkaart, sou sy so ’n kort rokkie waag en sy sou sekerlik niemand se gat kan raakskop nie, sy sou te bang wees dat haar voete onder haar uitgly en sy op haar alie beland!
Om nie te doen punt nommer twee: Wanneer my boude weer so hard is dat jy ’n tennisbal op dit kan hop, sal jy nie ’n g-string dra sodat ‘n harempant broek tussen jou magtige klowe inkruip nie. Onthou altyd hoe die meisie in Nando’s gelyk het toe die broek so ingekruip het. Moenie harempants koop nie, los lappe en boude werk nie goed saam nie.

Sy het saggies begin ruk soos sy lag, toe sy die storie wat Jan Spies van die Tannie met die Pienk Rok vertel het, onthou het.

Om nie te doen punt nommer drie: Moenie jou gat wip wanneer iemand onwetend jou stoel in Jamaica Blue vat nie. ’n Stoel is ’n stoel is ’n stoel en dalk het hulle jou regtig nie gesien nie.

Haar maag het sommer weer gedraai toe sy terugdink aan die vrou wat seker gemaak het dat sy hoor dat sy en haar twee seuns die plek waar sy soú sit, gevat het. Sy het dae later steeds haar kop in stomme verbasing geskud wanneer sy aan die verontwaardigde vrou gedink het. Dat ’n sitplek ’n mens nou so sou ontstel.

Later die aand het sy haar man by die treinstasie gaan haal, alleen. Vir die eerste keer in maande het hul kuiermense gehad wat oorgeslaap het.

“En,” wou sy weet, “het jy nog ’n werk?” Die maatskappy het ’n maand of twee tevore nuwe bestuur gekry en nuwe besems het nou maar eenmaal skoner gevee.

“Ek weet nie. Elke keer wat ek vir Dawid vra en probeer uitvis dan verander hy die onderwerp. Die vrou wat nou die baas is, ignoreer my telefoonoproere. Dit lyk nie goed nie,” hy het sy veiligheidsgordel vasgemaak.

“Die gewag maak dit erger, want mens kan niks beplan nie. Die pyne in my bors en arms is ook weer terug.”

Sy het haar hand op sy been gesit, “Ons is eenmaal hier deur, ons kan nou weer hierdeur. Die vrou van die eiendomsagentskap het ook laat weet dat die huurders uittrek die einde van die maand. Ek weet nie, dit voel net vir my of die Here dinge in plek sit vir iets, maar ons weet net nie wat nie. Nou is dit bloot ons wat op daardie pad moet loop,” sy het gesug.

“Ek weet nie, hierdie geloof ding is ’n baie moeilke ding. Ek weet net nie…”

Die volgende oggend het sy voor Facebook gaan sit, soos sy elke dag maak, vir hopeloos te lank en sy het die notifications gelees. Die knop in haar keel het dik geword hoe verder sy gelees het en die dankbaarheid het diep in haar derms vasgesteek. Sy was opreg dankbaar vir die woorde van hoop en bemoediging wat op haar skerm vasgeslaan het.

‘U sien my tog raak, Here,’ het sy gedink. ‘U kyk na my en U sien my, met my vratte en al en U sien die onvolmaaktheid en die foute, maar nietemin sien U my. Ek voel soms so onsigbaar, ek voel soms so moeg. Asof ek gee en gee van myself en daar niks meer oor bly nie, maar U sien my tog. Dankie.’

Sy het na haar kuiergaste gedraai, “Weet jy Chris, ek het meer vrae deesdae in my geloofspad, maar ek het ook ’n vaste wete, dat ek weet, dat ek weet, dat daar ’n God is. Ek het hierdie besef dat ons op ’n pad is, ons kan net nie die end destination sien nie. Maar die Here weet, ek het meer vrae as antwoorde en ek wens Hy wil bietjie meer spesifiek met die antwoorde wees.”

Haar dae was maar redelike SOS dae, het sy gedink. Same old, same old, soos die jongmense van die kerk in Brits dit jare terug genoem het. Sy het altyd met ’n stukkie heimwee teruggedink aan daardie tyd in haar lewe.

Gevolglik moet jy verstaan wanneer ek dae aanskuif in hierdie storie, want jy het nou nie nodig om al die detail van elke dag te weet nie.

Die volgende oggend toe sy wakker word en haar man so in sy naaktheid voor die spieël sien staan wou sy amper vir hom sê: “Jou boude het nou al plooie van maergeit!” Maar sy het nie, sy het maar net geglimlag en behaaglik gestrek. Nog ’n dag is toegevoeg deur genade. Daardie dag sou hulle ’n werkskollega en sy vrou wat van Suid-Afrika gekom het vir die maand, vat sodat hulle ’n smakie van die Swan Valley kon kry.

‘Here, Dinsdag sê hulle tien teen een vir my man dat hy nie meer werk het nie en steeds bou ons verhouding, steeds gee ons om. U sal mos sorg dan vir ons ook, né?’

“Kom, kom outjies, laat die dag begin!” het sy geroep terwyl sy gang af gestap het. 

Hulle het die Dlamini’s by die treinstasie gaan haal. Die week het die murg uit haar getap, het sy gedink terwyl hul gewag het. Sy was nie werklik lus vir die rondkarwyery nie, maar die geselskap het lekker gevloei en kort voor lank het hulle gekliek soos lank verlore vriende.
Die geroosterde koffiebone reuk van Yahava het hulle oorweldig.

“Koffie ruik baie lekkerder as wat dit proe,” het sy vir die vroutjie gefluister, wat dit laggend beaam het. Tog het hulle koffie bestel toe hulle by die toonbank aangeland het. Buite het hule die eerste lentesonnetjie geniet, terwyl die kinders soos wafferse toeriste op die strandstoele gesit het en die dammetjie beloer het.

Daarna het hulle gaan sjokolade proe by die Margaret River Chocolate company en by Providore van die konfyte probeer. Roomys was volgende op die lys terwyl die kinders hule hande in die grys seesand grond gedruk het.

‘Gee ’n kind sand en dit is asof hy dadelik geanker word,’ het sy gedink. Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.

Die heuning, nougat en peanut shoppies het gewemel van die Asiërs en sy het haar verwonder aan die beeldskone meisie en gewonder of een van die mense ’n man of vrou was.

‘Here, hoekom is mense deesdae so geslagloos?’ het sy in haar binneste gebid.

Dae later sou sy steeds vir mense vertel hoe hulle ’n kort vakansietjie in die dag ingepak het. ‘Mens moet meer sulke dae hê,’ het sy gedink, ‘meer dae waar jy net die dag geniet, net uitkom en nie bekommer oor die dag van more nie.’

Die Maandagmore voor die Dinsdag wat hulle sou weet of haar man bly of gly, het sy met ’n pyn in die nek wakker geword. Toe onthou sy haar droom, die droom van haar vriendin wie ruimte toe is en hoe sy saam sou gaan, maar eers moes reël dat haar Afrikaanse eksamenvraestel aangestuur word na die ruimtestasie!

‘Ag Here, ek het wragtig nie lus vir toets skryf nie! Het ek nie genoeg aan die dag tot dag skool goed met die kinders nie? Nou moet ek ook nog weer in die skoolbanke kom?’

Miskien was die droom eerder oor haar vriendin?

Nou dít was ’n storie wat gewag het om vertel te word! Haar vriendin wat na ’n alleenlewe maar allermins ’n eensame lewe, van tien jaar na haar egskeiding, skielik halsoorkop verlief geraak het op ’n man, én binne twee maande na die liefde afgeskop het, moes besluit of sy saam die man die groot trek Australië toe sou aanpak.

Sy het gewonder hoe dit sou voel om op 41 jarige ouderdom verlief te moes raak? Sommer halsoorkop, mal verlief, maar jy is reeds gevestig in jou besigheid en jou kinders is al tieners? Kan mens dan nog reguit dink? Sy het ’n skietgebedjie opgestuur vir haar kinderdae maatjie en gebid dat die Here haar tog sou beskerm en haar elke oomblik sou laat geniet.

Sy was bekommerd oor háár geliefde. Hy was snotterig en het sommer met haar kar ingery werk toe. Die Maandag… die dag voor die Dinsdag, die dag voor die gly-dag…

Daardie Maandag het sy en die seuns Bunnings toe gegaan om speelgoedtrokkies te gaan maak. Hoe het sy nie gewens sy kon in een van die trokkies klim en sommer net die pad vat, weg van ’n maatskappy wat dinge in die geheim hou, weg van mense wat nie oop en eerlik is nie, weg van mense wat selfgesentreerd was en net hul eie belang gesoek het. Sy het aan al die clichés gedink wat mense sê wanneer jy deur die smeltkroes gaan. Sulke goedbedoelde woorde, sulke omgee woorde, maar vir daardie Maandag, daardie Maandag spesifiek wou sy net iemand hê wat saam haar kon bid, nee, wat vir haar kon bid.

En toé het die Dinsdag aangebreek en sy het biddend wakker geword. Sy het soggens opgestaan wanneer haar man uit die stort geklim het. Die oggend het sy dit weer gedoen en kombuis toe geloop om sy ontbyt te gaan maak; twee eiers, blare en ’n hoenderboudjie uit die vol yskas geneem en skielik het sy onthou van ’n storie wat ’n staatsaanklaer van Bultfontein haar vertel het in die Romeinse Reg klas in haar vierde jaar. Die storie het so geloop.

Die boer het volstruise in van sy mielielande aangehou as bewaarders van die pitte. Eendag het hy vir Filemon gestuur om iets êrens te gaan haal, soos mens nou maar doen. ’n Trippie wat op die langste ’n uur moes neem het ’n paar uur geword en dit was reeds sterk skemer toe ’n verflenterde Filemon by die plaasopstal opdaag.

“Jirre Filemon! Wat het met jou gebeur my ou?” het die boer bekommerd geroep terwyl hy die trappies geskip het na die stofvaal man.

“Jirre my baas, dáár, dáár by die duskantse land, daar loop die god van die kiep!”

Sy het geglimlag en kon skielik onthou hoe sy nie kon ophou lag wanneer haar gedagtes die beeld van die prentjie opgeroep het nie. Daardie maand van September tot Oktober was daar baie volgelinge van die god van die kiep op hulle spyskaart.

Later het haar oudste met ’n kombers om die lyf die vertrek ingeloop.

“Jy lyk nou net soos ’n Basoetoe,” het haar man tussen die blare etery vir hom gesê.

“’n Wat?” het die kind deur die slaap geantwoord.

“Laat mamma jou wys van die Basoetoes en hulle komberse.” Die outjie het langs haar kom staan en sy het hom gewys hoe die mense van Lesotho die komberse om hul draai. Sy het haar verstom aan die patrone wat in die komberse ingewerk was. Sy het nog altyd gedink ’n kombers was ’n kombers was ’n kombers, maar duidelik nie in die Basoetoe kultuur nie.

Dit was die begin van die Dinsdag wat die t-aansluiting van een pad by twee ander was. Reguit kon hul nie meer loop nie. Hulle sou moes links of regs. 

‘Here in die hemel, Here binne my, Here rondom my, Here onder my, Here bo my, gee my vandag ‘n Basoetoe kombers asseblief. Wys my die patroon wat U vir my gemaak het. U is die God van die kinders in hierdie huis. U was dit nog altyd, U is dit tans en U is dit in ewigheid. Loop nou met ons en wees asseblief my ongeloof genadig.’

Later die dag, om presies te wees, 10:55 die oggend het sy hom ’n boodskappie gestuur, ‘En?’

‘Ek het nou net my brief gekry en sal maar stadig begin oppak,’ het hy terug laat weet.

So het nog ’n seisoen in hul lewe klaar gekry.

‘Here, U ken die begeerte van ons harte na ’n eenvoudige lewe. U weet hoe ons smag om meer tyd as gesin saam te kan spandeer. U weet… U sien my…’

Sy het iets onthou wat haar pa altyd gesê het, “Toemaar, in die Tweede Wêreld Oorlog is meer mense dood.” Sy het diep asem gehaal. Diep, diep in die diepste van haar mens wees het sy ’n sprankie opgewondenheid ervaar. Sy het geweet dat hulle op die vooraand van groot goed in hul lewe gestaan het. Sy het geweet dat die getuienis sou loop. Sy het geweet mense sou vertel van God se voorsiening in hul lewens. Sy het geweet dat sy weet dat sy weet…

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s